Olyf-Liefde { Organiese Glans }

olywe-trou-tema

Olywe is nou nie juis almal se koppie tee nie, maar díe interessante vruggie het nou maar eenmaal ‘n betowerende aura omtrent dit wat mens se hart steel – selfs al staan die smaak daarvan jou nou nie juis aan nie. Boonop is olywe een van die min natuurlike elemente wat feitlik enige tema of styl komplementeer, hetsy dit rustiek, elegant, sjiek, stylvol, glansryk, sprokiesagtig of organies is – en die lysie gaan aan!

Bo en behalwe die peusel daarvan, kan olywe op vele verskillende maniere hul verskyning op jou groot dag maak:

  • Eerste prys is natuurlik ‘n olyfplaas as trouvenue! Hier kan jy jou skemerkelkie onder die olyfbome hou, met die fotosessie wat volg in die olyfboord.
  • Silwer-grys olyftakkies is die ideale vaas-vuller en werk veral goed saam met blomme soos peonies, rose en renonkels.
  • Bederf olyf-fynproewers met mini mandjies propvol vars olywe, klein botteltjies olyfolie of potjies gepreserveerde olywe.
  • Wat jou kleurskema betref, kombineer olyfgroen met skitterwit, skakerings van grys en tikkies silwer vir ‘n vars, stylvolle en “organiese” kleurskema, of voeg blospienk en poeierblou aksente by vir ‘n lentevars tema.
  • Vul die konfetti mandjies met olyfblare en versier die venue deur olyftakke uit die dag en vanaf die kandelare te hang.
  • Werk die olyftakkie-motief by jou skryfbehoefte-ontwerpe in en versier die troukoek met olywe en silwer-grys takkies.
  • Bedien eenvoudige happies en canapés soos geroosterde bruschetta of a caprese slaai wat met olyfolie vervolmaak is, asook olyf- en kaasborde met ‘n verskeidenheid wyne.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category