Katjie van die Baan { Sport-Tema }

sport-trou-tema

Dalk het hy jou op die golfbaan die “ja-woord” gevra… Miskien was julle eerste soen onder die spreiligte van Nuweland… of dalk is julle nét so lief vir die “pragtige sport” soos vir mekaar! Díe tema is nommerpas vir die sportmal paartjie wat ‘n bietjie “skop” aan hul troudag wil gee.

Loer dus gerus ‘n bietjie na díe idees om jou groot dag selfs meer opwindend en spesiaal as die wêreldbeker te maak:

  • Vermaak gaste gedurende die skemerkelkies met verkleinde weergawes van jul gunsteling sportsoorte, soos byvoorbeeld tafeltennis, mini-krieket, putt-putt, vinger-hokkie of “foosball”.
  • In plaas van ‘n gasteboek, laat die gaste hul boodskappies op ‘n spesiale rugby- of sokkertrui skryf.
  • Verruil tradisionele konfetti vir pompoms soos die wat die “cheerleaders” altyd in die flieks rondwaai, of gee vir die manne groot sponsvingers en fluitjies.
  • Vervang hoity-toity troudag vingerhappies met tipiese wedstrydkos, soos byvoorbeeld mini worsrolletjies, grondboontjies, biltongstukkies en gemarineerde hoendervlerkies.
  • Lê die tafelplan soos ‘n wedstrydplan uit en gebruik die name of nommers van jul gunsteling spelers om die verskeie tafels te benoem.
  • Laat maak vir elke strooimeisie en -jonker ‘n sportstrui met sy of haar naam en ‘posisie’ op die rug, en reël dat julle vooraf foto’s op ‘n nabygeleë sportveld neem.
  • Kies ‘n uitnodiging-ontwerp wat soos ‘n wedstrydkaartjie lyk en maak gebruik van baniere om die venue te versier.
  • Wanneer die tyd aanbreek om die kousband te gooi, laat manlief die bandjie om ‘n rugbybal draai voor hy dit gooi sodat die manne behoorlik daarvoor kan skrum.

Foto Krediet: decwedding.com


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category