In die Liefdesbootjie { Visvang Tema }

visvang-trou-tema

Daar mag dalk baie visse in die see wees, maar jy’t uiteindelik jou perfekte vissie gevang en dit moet gevier word! Die tema is ideaal vir die paartjie wat gereeld langs die viswaters uitspan en, al is dit op eerste oog opslag op die manne gemik, kan jy dit op soveel maniere in ‘n romantiese sprokiesverhaal omskep.

Die algehele “look and feel” van die tema gaan hoofsaaklik deur die natuur aangegee word. Dink baie natuurlike kleure en elemente, soos ruwe hout wat díe van ‘n vissersbootjie weerspieël, afgedopte verf dekorstukke, bloue elemente wat aan die viswaters herhinner en verskeie skakerings van natuurlike groen.

  • Kies ‘n verskeidenheid vis en seekosgeregte vir die spyskaart asook smullekker sushi-rolletjies as voorgereg.
  • Maak vissie-ysies vir die skemerkelkie-drankies! Sny vis-vormpies uit lemoenskil en plaas dit in die ysbakkies voordat dit in die vrieskas ingaan.
  • Gebruik visbakke as tafelversiering, kompleet met regte goudvissies wat daarin rondswem.
  • Werk stukke visnet by die venue- en tafelversierings in, asook waterboeie en dobbermannetjies.
  • Versier die venue met die tipe outydse lanterns wat gewoonlik met die viswaters geassosieer word en feeliggies wat soos vuurvliegies lyk.
  • Gebruik ‘n ou roeibootjie as die tafelplan en span eenvoudig toutjies van een rant na die ander waaraan naamkaartjies vasgesteek kan word.
  • Pak die fotohoekie propvol visserman-jassies, hoedjies en reddersbaadjies, en laat neem julle troufoto’s langs die viswaters of in ‘n koddige roeibootjie.
  • Vir ‘n tong-in-die-kies kersie op die koek, pak die nageregtafel vol jellie-lekkers wat soos vis-aas lyk – dink wurms, spinnekoppe en kewertjies.

Alle foto’s en hul bronne is op ons Pinterest beskikbaar.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category