Potjies vol Plesier { Mini Bederfies }

glaspotjies

Om verwelkomingsdrankies en mengeldrankies in glaspotjies te bedien is ‘n neiging wat die bruilofwêreld stelselmatig oorgeneem en betower het – maar dit blyk asof dit bloot die begin was. Die volgende treetjie in die flessie-revolusie is smullekker nagereg!

So kom ons loer na ‘n paar stroopsoet idees en wenke om jou potjies met hemelse bederfies te vul:

  • Deurskynende glaspotjies bied die ideale geleentheid om die interessante lae van ‘n koek of nagereg ten toon te stel. Dink byvoorbeeld aan smullekker ombre lae-koeke, dekadente trifles, lae sjokolade mousse of selfs gesonde muesli-en-jogurt potjies wat by die kleurskema pas.
  • Wanneer die nagereg bedien word, verskaf gaste met dekseltjies sodat hulle die opsie het om hul soethappies huistoe te neem – veral vir díe gaste wat miskien nie meer plek het na ‘n smaaklike dog vullende hoofgereg nie!
  • Bind ‘n dankie-briefie om die nek van elke potjie vas om so die nagereg in ‘n gastegeskenkie te omskep. Jy kan dit selfs ‘n treetjie verder neem en persoonlike troudag-etikette vir die potjies laat druk.
  • Indien julle nie juis groot soettande is nie, slaan ‘n ligter noot in deur muffins, pasteitjies of mini broodjies in die potjies te bak.
  • Stapel die flessies op ‘n koekstaander sodat dit die vorm van ‘n veellaag troukoek aanneem.
  • Indien jy nie ‘n bakkoningin is nie, vul die potjies met droë bestanddele vir jul gunsteling koek-, nagereg- of kolwyntjie-resep, en sluit die instruksies op die etiket in.
  • Moenie van koekies vergeet nie! Bederf gaste met ‘n potjie propvol soetkoekies, sjokolade en malvalekkers vir ‘n doen-dit-self smores-stelletjie wat hulle tuis kan benuttig.

Alle foto’s en hul bronne is op ons Pinterest beskikbaar.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category