Klein Bietjie Wyn { Wonderwenke }

Fynproewers en connoisseurs was nog altyd van mening dat geen feesviering werklik feestelik en spesiaal is sonder ‘n bottel goeie wyn nie. In vandag se dae is ‘n kontantkroeg die meer gewilde en gewenste opsie onder bruidspaartjies, en daarom is dit belangrik om goed na te dink oor jou keuse van tafelwyn.

Omdat geen twee persone se smaak presies dieselfde is nie, is daar nie regtig vuurvaste reëls wanneer dit by kos en wyn paring kom nie. Die beste manier om werklik op ‘n komplementerende wyn vir jou troudag te besluit is om self die wynland in te vaar en te proe tot julle ‘n wyn kry waarvan júlle hou. Hier is egter ‘n paar breë riglyne om jou en jou aanstaande in die regte rigting te stuur.

Eerstens, wat sê die venuebestuurder?

Elke venue het sy eie beleid omtrent wyn en die inbring daarvan. Meeste wynplase byvoorbeeld laat slegs hul eie wyn by troues toe. Vind dus uit of die venue jou sal toelaat om jou eie wyn in te bring en of daar moontlik ‘n kurkfooi gehef kan word.

Verwags of onverwags?

Dit is belangrik om jouself af te vra of jy eerder ‘n bekende wyn wil voorsit wat almal sal geniet soos ‘n Merlot of Sauvignon Blanc, of jou gaste se palette aan nuwe smake wil blootstel. Indien jy besluit om ‘n opwindende en buitengewone roete in te slaan, is dit belangrik om jou navorsing te doen: Besoek ‘n paar wynplase in die omgewing, gaan op wyntoere, proe ietsie van alles en gesels met die wynkenner en besluit so op jou tafelwyn.

Wat is op die spyskaart?

VOORGEREG

Omskep jou skemerkelkie of voorgereg in ‘n kaas en wynproe sessie. Soos voorheen genoem, is daar nie werklik vaste reëls wanneer dit by kaas en wyn paring kom nie, maar hier’s ‘n paar wen kombinasies as riglyn:

  • Cabernet Sauvignon: Camembert, Cheddar, Swiss, Bloukaas, Gorgonzola, Gouda, Parmesan en Roquefort.
  • Chardonnay: Brie, Edam, Camembert, Roomkaas, Bokmelkkaas, Gouda, Gruyere, Parmesan.
  • Sauvignon Blanc: Cheddar, Edam, Mozarella, Parmesan, Mascarpone, Feta
  • Chenin Blanc: Camembert, Bokmelkkaas.
  • Merlot: Brie, Camembert, Cheddar, Gouda, Gruyere, Limburger, Gorgonzola, Parmesan.
  • Pinot Noir: Mozarella, Feta, Brie, Gouda, Cheshire, Bloukaas, Gorgonzola, Swiss.
  • Riesling: Emmental, Feta, Brie, Bloukaas, Parmesan, Roomkaas Mascarpone, Edam Gruyere.
  • Soetwyn: Crème Fraiche, Mascarpone.

HOOFGEREG

Die basiese reel vir wyn en kos paring is:

  • Swaar rooi wyne soos Cabernet Sauvignon saam met ryker, swaarder disse met meer komplekse geure of ‘n ligter rooi wyn soos Pinot Noir;
  • Ligte wit wyne soos ‘n Chardonnay of ‘n Riesling saam met ligter disse soos visgeregte, vingerhappies en slaaie.

NAGEREG

Vir nagereg, sit ‘n verskeidenheid sjokolades voor en hou ‘n wyn en sjokolade proe sessie. Net soos met kaas hang dit van persoon tot persoon af, maar hier’s weereens ‘n paar basiese riglyne:

  1. Vermy droë wyne wanneer jy wyn en sjokolade probeer kombineer.
  2. Kies ‘n wyn wat of net so soet of soeter as die sjokolade is.
  3. Romerige sjokolade gaan die beste met ligter wyne, terwyl sterker en donker sjokolade beter met swaarder, voller wyne trou.
  • Wit sjokolade: Sherry, Muscat.
  • Melk sjokolade: Pinot Noir, Ligte Merlot, Riesling.
  • Donker sjokolade: Cabernet Sauvignon, ‘n swaarder Pinot Noir of Merlot.
  • Sjokolade nagereg of gevulde sjokolade: Port

Hoeveel wyn is nodig?

Vir ‘n 4-uur lange onthaal kan jy gemiddeld op 1.25 bottels per persoon werk. Maar dan is daar natuurlik ook ander faktore wat jy in ag moet neem soos die ouderdomme en tipe persoonlikhede op jou gastelys, asook hoeveel van hulle wel wyndrinkers is.

En moet tog nie die sjampagne vir die heildronk vergeet nie! Maar dis weer ‘n storie vir ‘n ander dag.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category