Wonderpitte { Jellieboontjie Tema }

Jellieboontjie

Kleurvol, smaaklik en smaakvol – alles wat jy moontlik in ‘n troudag bederfie wil hê! Jellieboontjies bly maar ‘n gunsteling, ongeag hoe oud of koud die gas – daarom is daar dus geen beter manier om ‘n glimlag op die bakkies van jonk en oud te sit as om vase jelliebone die wêreldvol te plaas nie.

Terwyl ‘n reënboog van gekleurde jelliebone sonder twyfel die oog vang, gee die wye verskeidenheid kleure jou die geleentheid om die boontjiepotte by jou kleurskema aan te pas – byvoorbeeld, pienk en wit vir ‘n vroulike vintage tema of swart en blou vir ‘n aandgeleentheid.

Hier is ‘n paar stroopsoet idees om die kreatiewe saadjie, of liewer boontjie, te plant:

  • Versier die troukoek met jellieboontjies wat in ‘n unieke patroon gerangskik is of oortrek die hele koek met die kleurvolle soetgoed.
  • Verpak die boontjies in tablethouertjies as “energie-tablette” vir die dansvloer.
  • Bederf gaste met mini boksies, potjies, sakkies of botteltjies vol jellieboontjies of skep ‘n jellyboon buffet! Vul eenvoudig ‘n verskeidenheid vase met jellieboontjies en gee jou gaste die geleentheid om hul eie houertjies vol te pak.
  • Strooi jellieboontjies op die gastetafels vir ‘n tikkie kleur en vul die blompotte met gekleurde albasters om so die boontjie-tema te komplementeer.
  • Indien jy nie bang is om met lekkergoed bestrooi te word nie, gebruik ‘n mengsel van mini malvalekkers en jellieboontjies as alternatiewe konfetti.
  • Versier die venue met reuse jellieboontjies, oftewel groot gekleurde helium ballonne, wat by jou gekose jellieboon kleure pas.
  • Gebruik die boontjies om gaste se name op die tafels te “skryf” of “skryf” vir manlief ‘n stroopsoet boodskappie in die kamer waar hy gereedmaak vir die troue.

Alle foto’s en hul bronne is op ons Pinterest beskikbaar.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category