Smullekker S’mores { Heerlike Happies }

trou-idees-met-smores

“S’mores” is nou wel nie ‘n tradisionele Suid-Afrikaanse soethappie nie, maar ons is mos nou nie ‘n nasie wat “nee-dankie” kan sê vir ‘n lekker bederfie nie! As jy nie heeltemal seker is waaroor ons kêkkel nie, laat ons gou verduidelik: S’mores is basies ‘n soet “toebroodjie” wat bestaan uit gesmelte malvalekker wat knus tussen twee beskuitjies sit – absoluut hemels!

En dit is maar net die begin! Van hier af kan jy die malva-toebroodjie in gesmelte sjokolade doop en met gekleurde “sprinkles” versier, of kondensmelk daaroor giet en gekapte neute bo-oor strooi. Verder kan jy ook ‘n blokkie sjokolade saam met die malvalekker smelt voordat jy dit tussen die twee koekies vasdruk.

Hier is ‘n paar maniere om díe gewilde bederfie op jou troudag te bedien:

  • Stal ‘n verskeidenheid s’mores in elegante vase in die middel van die gastetafels uit sodat gaste deur-en-tyd iets het om aan te peusel.
  • Stel ‘n s’mores nagereg-stasie op waar gaste uit ‘n verskeidenheid beskuitjies, gegeurde malvalekkers en soete versierings kan kus en keur.
  • Maak ‘n lekker groot knetterende kamp- of kaggelvuur waar gaste self hul malvalekkers kan smelt om die s’mores mee te maak.
  • Huur ‘n sjokolade fontein en bedien s’mores en ander lekkernye wat gaste in die warm sjokolade kan doop.
  • Bedien die soete bederfies saam met koffie en warm sjokolade by ‘n winterstroue of as middernaghappie nader aan die einde van die geleentheid.
  • Stuur elke gas huistoe met ‘n s’mores stelletjie wat uit koekies, malvalekkers sjokolade, sosatiestokkies en ‘n kersie bestaan.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category