Smelt-in-die-Mond Bruintjies | Resep

brownies-01

“Brownies” oftewel bruintjies is ‘n ryk en stroopsoet bederfie wat min soettande van die hand kan wys of enigsins kan weerstaan. Díe maklike en beproefde resep is ideaal vir die doen-dit-self bruid wat ‘n stapeltjie bruintjies vir gaste of manlief aanmekaar wil slaan:

Bestanddele (basiese bruintjies):

  • ½ koppie botter
  • 2 koppies bruinsuiker
  • 2 eiers
  • 1 koppie koekmeel
  • ‘n knypie sout
  • 5 eetlepels kakao
  • 1 teelepel vanieljegeursel

So gemaak:

  1. Voorverhit die oond tot 360 grade Celsius.
  2. Verroom die botter en meng die suiker deeglik in.
  3. Voeg die eiers een vir een by en klits tot lig en romerig.
  4. Voeg die sout en vanieljegeursel by en sif die koekmeel en kakao bietjie vir bietjie by terwyl jy alles saam meng.
  5. Plaas die mengsel in ‘n gesmeerde bakplaat (20 x 20 cm) en bak vir 30 minute tot gaar, of vir 25 minute indien jy ‘n effense taai bruintjie soek.
  6. Sodra dit afgekoel het, haal die bruintjies uit die pan en plaas op ‘n broodplank wat met waspapier bedek is.
  7. Sny in die gewenste vorm, en siedaar!
  8. Vir ‘n opsionele dog maklike bolaag, smelt ‘n blok donker of melksjokolade oor ‘n lae hitte en giet oor die bruintjies.

Sodra die smullekker bruintjies kant en klaar is, kan jy die bederfies op die volgende wyses by die troudag inwerk:

  • Bedien bruintjies en koffie of melkskommels as ‘n laataand peuselhappie om gaste se energievlakke ‘n hupstoot te gee.
  • Bou ‘n troukoek uit ‘n groot stapel bruintjies of gebruik ronde koekiedrukkers om miniatuur troukoek-stapeltjies te skep.
  • Wat gastegeskenkies betref, kan jy óf bruintjies in ‘n boksie of sakkie verpak óf gaste bederf met ‘n potjie bruintjie “premix” wat hulle self by die huis aanmekaar kan slaan.
  • Ronde en vierkantige bruintjies is al redelik alledaags so hoekom nie rondspeel met ander vorms soos hartjies of sterretjies nie?

Alle foto’s en hul bronne is op ons Pinterest beskikbaar.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category