Indiese Troukoeke { Stroopsoet Weelde }

indiese-troukoeke-stroopsoet

Daar is iets so ongelooflik betowerend en skouspelagtig omtrent Indiese ontwerpe, dat die ontwerper in ons dit feitlik wil opeet – en dit is presies waaroor hierdie artikel gaan! Indies/Bollywood geïnspireerde troukoeke is die ideale manier om ‘n stewige tikkie glans en uitspattigheid by jou troudag te voeg, so vandag gesels ons kleur, geur en weelderige ontwerpe.

Eerstens is dit belangrik om te verstaan dat uitspattigheid, oorvloed en weelde die sleutel tot sukses gaan wees – dink vyf-, ses- of selfs sewe-laag troukoeke. Dieselfde uitspattigheid geld ook wanneer dit by die keuse van die koek kom; iets soos ryk sjokolade ganache is ideaal, dog kan jy ook inspirasie put uit die geure en aromas van die Indiese geurpalet – dink byvoorbeeld aan ‘n smeltlekker dadel- en kaneelkoek of geurige wortelkoek met ‘n bietjie byt.

As daar een ding is waarvoor Indiese troues veral bekend is, dan is dit die fyn aandag aan detail. Delikate motiewe en patrone is dus ‘n moet, en laat ons nou nie van tierlantyntjies soos koekpêreltjies, fondantblommetjies, hangende kristalletjies en eetbare blinkertjies vergeet nie. Die koek-“topper” is ook van uiterse belang, en hier kan jy weer iets soos blink gepoleerde figuurtjies of lasergesnyde monogramme oorweeg.

Tradisionele Indiese elemente soos die glansende vloeiende materiaal van saris en die fyn patrone van henna bied uitstekende inspirasie vir die troukoek. Verder kan jy gerus deur argitektuur-tydskrifte blaai vir ‘n ekstra skeutjie kreatiwiteit. Kleur is ontsaglik belangrik so moet dus nie bang wees om helder en treffende kleure met mekaar te kombineer nie, asook metaalkleure soos goud, silwer en koper.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category