Doop ‘n Donut { Stroopsoet Idees }

donut-idee-01

Die ring is ‘n simbool van nimmereindigende liefde en as dit boonop eetbaar is, soveel te beter! Met sirkelvormige elemente wat so ‘n groot rol speel op die troudag, is dit eenvoudig net gepas dat die nageregtafel oorloop met ringvormige happies, oftewel stroopsoet, liplekker donuts.

Díe ronde soethappie is sonder twyfel ‘n universele gunsteling en enigeen wat al ooit hul tande in ‘n donut geslaan het, is ‘n aanhanger.

So kom ons loer na ‘n paar maniere om die troudag verder met donuts te versoet:

  • Versier die troukoek met klein donuts of bou ‘n alternatiewe donut-stapel troukoek en versier dit met sprinkels en versiersuiker.
  • Jy kan selfs die troukoek-versiering ‘n treetjie verder neem deur twee donuts in jul onderskeidelike gunsteling kleure te versier en as mannetjie-vroutjie figuurtjies te gebruik.
  • Wie het gesê donuts moet noodwendig rond wees? Eksperimenteer met allerhande vorms om by jou tema te pas – soos hartjies, blommetjies, ensovoorts.
  • Laat skryf elke gas se naam op ‘n donut in versiersuiker, en gebruik dit as pleknaam-gastegeskenkie.
  • Rig ‘n oliebol-stasie met ‘n verskeidenheid lekkergoed en souse op waar gaste self die versierings en bolaag vir hul donuts kan kies. ‘n Ander alternatief is ‘n sjokolade fontuin met mini donuts en soetgoed!
  • Bedien laataand warm sjokolade met donut sosaties – dink mini oliebolletjies, aarbeie en malvalekkers, bedek in sjokolade of karamel.
  • Maak seker daar’s ‘n fotohoekie naby die donut-stasie sodat gaste lekker laf kan raak voor die kamera – ons sien al klaar donut brilletjies, donut vingers en donut hoedjies!
  • Stuur gaste huistoe met pakkies mini donuts vir ‘n laataand peuselhappie na die troue.

donut-idee-022

donut-idee-02

donut-idee-04

donut-idee-03

donut-idee-05

 Foto Krediet: www.huffingtonpost.com


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category