Kategorie: Die Bruid, Media, Soetgoedjies

Bruilof Brokkies { Wonder-Wenke }

Gisteraand was die heel eerste episode van Bruilof en die skoenlappers wapper nogsteeds in ons harte! Jy sal seker saamstem dat, voor jy jou oë kon uitgevee was al die prag en praal verby en is mens so oorbluf deur al die inligting, mens kan skaars onthou wat die mooi mense alles te sê gehad het. So van nou af kan jy elke Woensdagoggend hier kom inloer vir die top wenke van die vorige aand se program.

Hierdie week het die pragtige dames ondersoek ingestel oor onder andere die troukoek en verloofring en die volgende brokkies het vir ons uitgestaan:

Die Trourok: Elizabeth Stockenstrom

  • Hou altyd die seisoen ingedagte waarin jy trou – dit het ‘n groot invloed op die ontwerp asook materiaal waarvan die rok gemaak is.
  • Volgens Elizabeth moet jy nooit jou skoene en juweliersware voor die trourok koop nie – die rok sal vir jou sê wat dit nodig het.
  • Doen vooraf jou huiswerk en kies ‘n ontwerper met wie se styl jy jou kan vereenselwig en wat jou eie komplementeer. So is die kanse baie groter dat jy gelukkig gaan wees met die eindproduk.
  • Wanneer jy vir jou eerste konsultasie gaan, moenie met ‘n vasgestelde prentjie in jou kop in stap nie – wees oop vir nuwe idees en luister wat die ontwerper te sê het.
  • Kies ‘n klassieke rok sodat jy nie oor twintig jaar kopkrap en sê, “Wat op aarde het ek gedink?” nie.

Die Troukoek: Kanya Hunt

  • Gaan altyd vir ‘n proesessie voor jy finaal op ‘n bakker besluit. Die prentjies in die portefeulje is mooi, maar dit sê niks oor die smaak daarvan nie.
  • Maak altyd seker dat afleweringsdienste by die prys van die koek ingesluit is, asook die opstel daarvan by die venue.
  • Neem ‘n kopie van jou uitnodiging saam na die konsultasie, asook enige ander fototjies, prentjies en inspirasie wat die koekontwerper ‘n idee kan gee van wat jy in gedagte het.
  • Dink mooi voor jy sommer ‘n tante, nig of buurvrou vra om die koek te bak. Selfs al is sy oor die algemeen ‘n uitstekende bakster, is dit ‘n gewigtige taak wat selfs die beroemdste sjef kan laat toeslaan en ‘n foutjie begaan.

Besoek Kanya Hunt se bladsy op Trou Inspirasie.

Die Verloofring: Johan Louw

  • Moenie laat jou begroting die kwaliteit van jou ring bepaal nie. Selfs vir ‘n klein bedrag kan jy steeds ‘n pragtige ring van goeie gehalte kry.
  • In die 1950s het De Beers voorgestel dat jy twee maande se salaris op die verloofring spandeer, wat vandag steeds as ‘n goeie riglyn dien.
  • Let op jou handvorm en gelaatskleur wanneer jy ringe aanpas om so te bepaal wat by jou pas en wat nie.
  • Daar is vier eienskappe wat die waarde van ‘n diamant bepaal, naamlik die vier Cs: cut, colour, clarity en carat. Doen navraag oor elkeen van die om te verseker dat jy nie ‘n kat in die sak koop nie.
  • Die steen is die fokuspunt van die ring, so koop dus die grootste een wat jy moontlik op jou begroting kan bekostig.
  • ‘n Ring se waarde word nie noodwendig net in Rand bepaal nie, maar ook deur die kwaliteit van die ontwerp. Dit is dus die moetie werd om in ‘n hoog aangeskrewe ontwerper te belê.

Troufotografie: Christine Meintjes

  • Vind uit wat die fotografie pakket insluit, byvoorbeeld is daar ‘n aanlyn-galery beskikbaar, ‘n koffietafelboek of uitgedrukte foto’s.
  • Elke fotograaf het sy of haar eie unieke aanslag. Kies dus ‘n fotograaf by wie se styl jy aanklank vind, en moenie net agter ‘n naam aangaan nie.
  • Loer op fotografie blogs na al die verskillende fotograwe se werk – dis die beste plek om ‘n idee te kry van hul styl.
  • Maak seker dat jou fotograaf ‘n plan B het vir ingeval dit sou reën – of julle nou foto’s op ‘n stoep of onder ‘n sambreel neem, netsolank daar wel ‘n tweede opsie is.
  • Die fotograaf is een van die heel eerste diensverskaffers wat jy moet bespreek, so doen dit dus ‘n jaar tot 6 maande vooraf.

Die Venue: Webersburg

  • Meeste wynplase laat nie ander wyn as hul eie by ‘n onthaal toe nie. Indien jy wel ‘n spesiale wyn het wat jy met jou gaste wil deel, vind uit of daar ‘n kurkfooi is wat jy kan betaal.
  • Net soos met die fotograaf is dit belangrik om ‘n plan B te hê indien julle buite trou en dit sou reën.
  • Vind uit of die wynplaas sy eie troukoördineerder het wat jou kan help beplan.
  • Doen navraag of stoele, tafels en eetgerei by die prys van die venue ingesluit is.
  • ‘n Troue op ‘n wynplaas kan besonders wees, enige tyd van die jaar. Moet jou dus nie teen lente/somer vasstaar nie – dis boonop die mees populêre en dus ook duurste tyd om te trou.
  • Probeer om ‘n venue te kry met nabygeleë akkommodasie om enige onnodige reistyd en –kostes uit te skakel.

Besoek die Bruilof webtuiste om die verskeie diensverskaffers se kontakbesonderhede te kry.

http://kyknet.dstv.com/programme/bruilof/



Soortgelyke artikels:

5 Aanmerkings op Bruilof Brokkies { Wonder-Wenke }

  1. Carien Hove says:

    Welgedaan Trouinspirasie!

    Het die afgelope maand die Bride 2 Be kompetisie ge-cover en Elizabeth was een van die borge. So ek het ‘n kans gehad om die rokke aan verskillende lyf vorms te sien en die detail van nader af te beskou. Dis die pragtigste skeppings OOIT!!!!! En elke finalis het finominaal in haar rok gelyk. Die vrou weet duidelik wat sy doen en ek sal vir altyd ‘n fan wees.

  2. Lani says:

    Was mal oor die insetsels! Kan nie wag tot volgende week nie!!!

  3. Rita van Zyl says:

    Shoe dankie dat jul als vir ons so maklik maak

  4. Reline says:

    Baie info baie dankie.

  5. Ronel de Vos says:

    Mal oor hierdie program ♥

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>