2014 Voorspellings Deel 3: Die Troukoek

troukoek-2014-01

Met begrotings wat by die dag knapper en kleiner raak, wil-wil mens met die begin van elke jaar wonder of die troukoek nie díe keer van die modelysie afgehaal gaan word nie. Tog met die kollig wat die jaar op alles wat mooi, uitspattig, romanties, weelderig en dramaties gaan val, is die troukoek groter, mooier en hoër op die wenslysie as ooit tevore:

Naakte Troukoeke: “Onversierde” koeke het oor die afgelope paar seisoene stelselmatig by die modeleertjie opgeklim, maar hierdie jaar is dit sonder twyfel een van die grootste neigings op die koektafel. Wat werklik die naakte troukoek laat uitstaan, is die rou, organiese karakter daarvan veral wanneer dit boonop met vrugte en vars blomme versier is – ons is gaande oor die sigbare lae koek en versiersuiker!

Fokusstukke: Die neiging vang beslis die drama en uitspattigheid van die jaar 2014 vas. Elke bruid wil uniek wees, en ons verwag dat dit veral op die koektafel gaan deurskemer – uitspattige toring-koeke, onderstebo skeppings, hangende troukoeke en allerhande betowerende vorme.

Metale: Van metaalkleurige aksente tot troukoeke wat van bo tot onder met blink goedjies bedek is – vandat metaalkleurige versiersuiker die bak-wêreld getref het, is dit nou maar eenmaal ‘n gier wat nie sommer gou uit die mode sal gaan nie. Roosgoud is veral hoog op die modelysie, asook koper, wat beteken dat geelgoud vereers eenkant toe geskuif gaan word.

Frilletjies en Valletjies: Troukoeke wat deur sagte materiaal, kant, plooie en rosette geïnspireer is is al vir ‘n hele tydjie lank ‘n gunsteling, maar volgens kenners gaan dit die jaar ekstra gewild wees, veral met “klassieke romanse” wat hoog mode is.

Helder Kleure: Pantone het onlangs hul lys van top kleure vir 2014 bekendgestel, en dit is taamlik aan die helder kant! Dit is daarom te verstane dat helderkleurige koeke beslis ‘n buiging op die rooi tapyt gaan maak, asook verskeie dramatiese geometriese patrone, skoon lyne en treffende kleur kombinasies – definitief in lyn met “uitspattigheid”.

Klassieke Romanse: Vintage is nog nie naastenby iets van die verlede nie, al verwag ons egter om meer van die klassieke vintage te sien eerder as die “tweedehandse winkel” gier van 2013. Verwag hoë stapelkoeke en tradisionele marsepaan, asook gesofistikeerde torings soetgoed soos roompoffertjies, petit fours en truffels.

Kersie op die Koek: In plaas van die tradisionele mannetjie en vroutjie, eksperimenteer bruide deesdae met die aller oulikste figuurtjies en versierinkies. Met kerse wat weereens groot opslae in die dekor-wêreld maak, is dit geen verrassing dat dit ook ‘n gunsteling troukoek-versierings is nie – sien dit as verjaardag kersies met ‘n kinkel.

troukoek-2014-02

troukoek-2014-03

troukoek-2014-05

troukoek-2014-06

Foto Krediet: weddingideasmag.com


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category