Idees vir Tafelname { Inspirasie }

Tafelnommers is uit, tafelnáme is baie belis in! As daar nou een plek is waar jy behoorlik kan kreatief raak en jou tema tot die uiterste deurvoer, is dit hier. Ons het besluit om ‘n lysie idees aanmekaar te stel en (soos jy self ook sal vind) toe die inspirasie eers begin vloei was daar amper geen keer nie.

  • Blomname – versier dan elke tafel met blomme wat by die naam pas. Vir die tafelplan, maak vir elke gas ‘n skouer- of knoopsgatruikertjie met dieselfde blom as die tafel waarby hy sit. ‘n Ander opsie is om elke gas se naam om ‘n blomsteeltjie vas te bind en dan die blomme in vase te sit wat die verskillende tafels voorstel.
  • Plekname wat vir julle spesiale betekenis dra – byvoorbeeld die restaurant waar julle jul eerste afspraak gehad het, die koshuis waar julle ontmoet het, die park waar julle altyd met die honde gaan stap, ens.

  • Name wat eie is aan ‘n stokperdjie wat julle saam beoefen – byvoorbeeld riviername (visvang), golfbaan name of putjies (kranige golfspelers), skaakstukke, rugby posisies.
  • Fliekvlooie kan hul tafels na hul gunsteling rolprente vernoem. Om dinge selfs nog meer interessant te maak, gee vir elke gas ‘n bekende reël uit die rolprent wat sy tafel voorstel. So moet gaste eers uitwerk watter rolprent dit uitkom om hulle sitplekke op te spoor.

  • Bekende skilders of skilderye
  • Stede of besienswaardighede wat julle op jul wittebrood gaan besoek.
  • Die woord “liefde” in verskillende tale, byvoorbeeld Arabies = Mohabbat, Frans = Adore, Duits = Näghstenliebe, Indies = Prem, Iers = Gra, Romeens = Dragosta, Maleis = Sayang, Mauri (New Zeland) = Aroha, Pools = Milosc, Spaans = Amor, Italiaans = Amore, ens.

  • Strokiesprent-karakters of superhelde.
  • Klein en koddige goedjies waaroor julle al stry gekry het nou oor lag, byvoorbeeld skottelgoed was, broodkrummels op die toonbank, Kilimanjaro is hoër as Everest, ens.

  • As julle lief is vir wyn, gee vir elke tafel ‘n ander wynnaam. Om die tema verder te voer, gee vir elke paartjie ‘n bottel van daardie spesifieke wyn as ‘n gastegeskenk.
  • Chinese of Hebreeuse simbole

  • Digters, bekende liefdesgedigte of aanhalings
  • Verskillende eras in julle lewens – baba, kleuter, tiener, ens. – met ‘n foto van julle wat daarmee gepaardgaan.

  • Gebruik jou venue as inspirasie, byvoorbeeld as dit ‘n middel-eeuse kasteel atmosfeer het kan jy name, plekke of sprokiesagtige woorde gebruik om dit te komplementeer.
  • Gunsteling liedjies, musikante, kunstenaars of betekenisvolle lirieke. ‘n Ander oulike idee is om die lirieke of woorde uit die liedjie van julle eerste dans as name te gebruik. So kan gaste probeer uitwerk wat presies die liedjie is terwyl hulle vir julle wag.

  • As beide van julle lief is vir musiek of uiters musikaal is, vernoem die tafels na verskillende musiek-instrumente.
  • Verskillende geure en tipes sjokolades of ouderwetse lekkergoedname. Vrolik ook die tafel op met ‘n pot van die spesifieke soetgoed en gebruik ook potte lekkers met gaste se name op as tafelplan.

  • Jaartalle of datums wat vir julle spesiale betekenis dra, byvoorbeeld toe julle ontmoet het, die verlowing, verjaardae, ens.
  • Name of prentjies van verskillende skoenlapper-, voël-, vis- of enige diere-spesies.

  • Die name van klassieke motors – veral oulik as julle ‘n ouderwetse tema het of ‘n klassieke motor as troukar gekies het.
  • Droombestemmings wat julle eendag saam wil besoek.

Maar laat ons nou eers briek aandraai! Nou’s dit jou beurt… raak laf en geniet dit!

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest


  • Lizelle

    Baie oulik

  • Ronel de Vos

    Baie oorspronklik ♥

  • Sonia

    Uitstekende idees. Dankie!

  • Reline

    Was by ‘n biker se troue en die tafelname was GP racers. Baie oulik

  • Salomi

    Wil net graag hoor waar kan hierdie hart vintage lekkers gekoop word, bly in PTa

Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category