Kategorie: Bekendes, Regte Troues

Hildegardt en Kuba { Antiek Sjiek }

Die troukoors loop omtrent hoog onder die 7de Laners! Net nou die dag het ons geskryf oor Angelique Gerber (Clara) se fabelagtige Franschoek troue, en hier is ons weer met Hildegardt Whites (Bonita) en Kuba Silkiewicz se antieksjiek Weskustroue. Die twee het mekaar destyds by die Tswana-Universiteit van Tegnologie ontmoet, en is vandag nog net so smoorverlief soos die dag toe hulle begin uitgaan het.

Kuba, klawerbordspeler vir Karlien van Jaarsveld, en Hildegardt is beide rustige, plat-op-die-aarde kunstenaars en dit was ook die gevoel wat geskep is met hul groot dag. ‘n Feestelike Weskus familie-affêre, antiek sjiek van voor tot agter is wat die twee wou hê en dit was presies wat hulle gekry het – ‘n wafferse Weskus-opskop propvol glans en persoonlikheid.

Die onthaal het plaasgevind by die Shelley Point Hotel in St. Helenabaai, met die tafels rondom die hotel se fabelagtige swembad gepak. ‘n Groot markiestent het die area omsluit om ‘n warm, maar stylvolle atmosfeer te skep, met sagte rusbanke in skakerings van room en karamel waar gaste kon ontspan voor die onthaal.

Die tema was ryk aan egte antieke flair met ivoor, karamel en poeierpienk as die kleurskema. Swaardlelies en fyn wit blommetjies het die onthaalvenue in ‘n blomryke sprokiestuin omskep, terwyl ligpienk- en karamelkleurige rose die tafels versier het. Fyn borduurwerk op die tafeldoeke, kant versierinkies en vintage knopies het bygedra tot die antieke ambians, en swaar silwer kandelare het die prentjie vervolmaak met die liggies wat dans op die swembad se weerkaatsende oppervlak.

Heerlike wyn is bedien in rooskleurige- en kristalglase en dubbellaag goud-en-glas borde met silwer eetgerei het ‘n koninklike flair aan die geleentheid gegee. Die kostafels het behoorlik gekreun onder Weskus-lekkernye soos geroosterde snoek, en gaste se oë het gereeld gedwaal na die vier-laag vintage troukoek versier met suikerpêreltjies en ligpienk rose.

Hildegardt se rok was nommerpas vir die ouwêreldse glansgeleentheid, oortrek met die allermooiste kant, pêreltjie en diamanté detailtjies. Die rok is deur Vesselina Pentchova ontwerp – dieselfde gesiene rokmaker wat Felicity se pragtige trourok in 7de laan ontwerp het. ‘n Sagte vintage op-styl versier met ‘n fyn diamanté haarkammetjie het haar voorkoms afgerond – loer hier vir soortgelyke vintage haarstyle.

Na die onthaal het Hildegardt en Kuba in die pad geval Knysna toe, waar reksprong vanaf die Gouritsrivier-brug maar net een van die vele verrasings op die reisplan was – as jy nuuskierig is oor wat die twee nog alles aangevang het, kyk bietjie hier vir ‘n volledige lys van hul wittebroodsavonture en inspirasie vir jou eie romantiese wegbreek.

Kyk na hul trouvideo vir meer pragtige besonderhede, geneem deur FJS Productions.

Verskaffers:

Stoele: Hireco
Trourok: Vesselina Pentchova
Ko-ordineerders: Blank Canvas
Dekor en blomme: Be-dazzled
Fotograaf: Warren Williams Photography
Wyn en sjampanje: Perdeberg
Videograaf: FJS Productions
Markiestent: Weskus Tente
Venue: Shelley Point Hotel, Spa & Country Club
Huurdienste: Function Hire 4 U



Soortgelyke artikels:

2 Aanmerkings op Hildegardt en Kuba { Antiek Sjiek }

  1. Ronel de Vos says:

    Pragtige troue…so stylvol!

  2. Dit is die beste artikel tot op hede wat gepubliseer is en wat elke detail raak beskryf. Pragtige foto’s – wonderlike troue – fantastiese atmosfeer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>