Bruilof Brokkies { 9 Oktober }

Hierdie week op Bruilof het die aanbieders oudergewoonte weer ‘n hele swetterjoel interessante gaste aan die praat gekry. Ons was egter veral in ons noppies met die insetsel oor vloerplanne – seker ‘n bruid se grootste kopseer! Hier is sommer ‘n lekker lang lys van wenke wat ons gisteraand aan die hart gegryp het:

Fotografie: Jean-Pierre Uys

  • Die internet is ‘n goeie plek om te begin soek na ‘n fotograaf, maar selfs meer belangrik is verwysings. Mondelikse kritiek is baie meer werd as ‘n CV of portefeulje.
  • Wanneer jy deur ‘n fotograaf se portefeulje blaai, kyk na die hele dag se foto’s om te bepaal of die werk van ‘n konstante gehalte is.
  • Vra jouself voortdurend af: ‘Is dit hoe ék afgeneem wil word?’ Let op na aspekte soos die kleur van foto’s, die styl daarvan en die gevoel wat elkeen ontketen
  • As jy ‘n die bruid se littekens of selluliet op ‘n foto kan sien, kan jy maar weet dat die fotograaf oor die algemeen nie goed ingestel is op ‘n bruid se sterk en swakpunte nie.
  • Dis belangrik om te besef dat geen fotograaf Kersvader is wat elke wens op ‘n lysie kan bevredig nie, so gee hom bietjie vryheid.
  • Indien ten minste 80 tot 90% van die foto’s in die portefeulje nie in lyn is met wat jy in gedagte het nie, is dit beter om verder te soek.
  • Vra eerder jou grimeerkunstenaar om ‘n tikkie ekstra grimering aan te wend sodat jy nie bleek en uitgewas op die foto’s lyk nie.
  • Kies ‘n fotograaf wat ‘n troue verstaan, een wat hom- of haarself kan lei en nie knaend op jou skouer gaan tik en vra wat hy volgende moet afneem nie.

Vind ‘n fotograaf vir jou groot dag!

Venue en Kos: Overture, Hidden Valley

  • Meer belangrik as selfs die troudatum, is die venue, so bespreek dit so gou as moontlik.
  • Maak gereeld kontak met die verskeie diensverskaffers om uit te vind hoe sake staan en te verseker almal op dieselfde bladsy is.
  • Dit is baie belangrik om die seisoen in gedagte te hou wanneer jy die spyskaart opstel. Eerstens moet jy besin oor watter bestanddele binne seisoen is en dus maklik verkrygbaar is.
  • Dink logies na oor watter tipe disse gepas is vir die seisoen. Niemand wil immers slaai in die winter eet en ‘n koppie warm sop in die hitte van die somer afsluk nie.
  • Indien die groter persentasie van die gastelys vegetariërs is, oorweeg dit om slegs vegetariese disse voor te sit. Met soveel heerlike resepte sal niemand eers agterkom daar’s nie vleis in nie!
  • Indien die onthaal by ‘n restaurant gehou word, vind uit of die eienaar bereid is om die deure op jul groot dag vir die publiek te sluit.
  • Dit is belangrik dat die verskillende disse mekaar steeds aanvul en komplementeer. Indien jy dus ‘n vullende tradisionele voorgereg voorsit, sal gaste nie juis in hul noppies wees met ‘n mondgrootte kontemporêre hoofgereg nie.

Vind ‘n venue of spysenier in jou area!

Wintertroues: In and Out Events

  • Wintertroues is goedkoper as somertroues en het ‘n tipe misterie en romanse omtrent dit waarby ander seisoene nie kan kers vashou nie.
  • Waar gaste in die somertyd verskillende rigtings kan inslaan die buitewêreld in, forseer winter almal om saam te kuier en mekaar te leerken.
  • Beligting speel ‘n groot rol by ‘n wintertroue. Kies ligte met ‘n wit of geel ondertoon om die venue in ‘n sagte romantiese gloed van lig te dek en ‘n gesellige ambians te skep.
  • Geel, grys, wit en ligte pienk was hierdie winter se warmste kleure. Probeer sover moontlik koue skakerings vermy wat die venue ysig kan laat vertoon en voel.
  • Indien jy nie blomme in die hande kan kary nie, oorweeg alternatiewe versierings soos riete, droë takke, dennebolle en selfs handgemaakte papierblomme.
  • Kies ‘n kleiner venue wat meer gesellig is, of vul ‘n groot venue met bonkige meubels soos rusbanke om die spasie te dek – soos ‘n optiese illusie.
  • Gebruik kamerverdelers om die venue in kleiner spasie op te deel of verdeel die venue in klein “sitkamertjies” waar gaste alte lekker kan kuier.
  • Maak seker die joggie ken sy storie sodat jou gaste kan dans en makietie om die lyf en tone warm te hou.
  • Maak seker jy as bruid kies ‘n haarstyl wat die wind en koue kan trotseer of hou jou haarstillis byderhand.
  • Bedien smullekker trooskos en tipiese warm winter geregte soos sop en tuisgebakte brood, gevulde pannekoek en vetkoek, vullende bredies, malva poeding en warm sjokolade.
  • Rooiwyn en winter loop hand aan hand soos roomys en Desember, so bederf gaste met ‘n goeie rooiwyn of Duitse Glüwein.

Hier is verdere idees en inspirasie vir wintertroues en wynkeuses.

Vloerplanne: Willem Jansen

  • Die vloerplan en tafeluitleg vorm saam die fondasie van die groot dag, die sement wat alles bymekaar hou.
  • Om die vloerplan aan te pak, moet jy reeds weet watter tipe geleentheid jy beplan, byvoorbeeld as die partytjie na die ete belangrik is, is ‘n groot dansvloer ‘n moet.
  • Maak seker jy het ‘n idee van hoe die venue lyk en watter basiese elemente betrokke is wat nie verskuif kan word nie.
  • Dui ook ontwerpers hulpmiddele op die plan aan soos bestaande hangplek, argitektuele versierings en pilare aan wat ontwerpers en dekor beplanners kan gebruik.
  • Oor die algemeen moet die rugkante van stoele om `n tafel nie nader as 700mm van mekaar wees nie.
  • Vir ‘n meer moderne en ontspanne atmosfeer sal jy weer die tafels verder uit mekaar plaas om `n spesifieke vloei te handhaaf.
  • Maak seker die klank en beligtingsverskaffers gesels vooraf met die dekor ontwerpers om te verseker dat daar nie byvoorbeeld op die dag kabels oor die vloere lê nie.
  • Vra jou verskaffer om een ekstra tafel asook meegaande stel stoele te bring vir ingeval daar `n onverwagte gas of twee hul opwagting maak.
  • Vir ‘n oggendtroue is daar eerstens aansienlik minder klem op die kroeg, en jy sal heel waarskynlik ook nie `n dansvloer hê nie.
  • As jy ‘n buitelug troue beplan (wat van alle kante af gesien kan word), maak seker jy maak ook ‘n plan om onooglike rugkante van die kroeg en verhoog te verbloem.
  • Plaas altyd ouer gaste waar hulle alles duidelik kan sien en hoor, maar ook nie in ‘n deurloop area waar ander gaste in hulle gaan vasloop of naby die luidsprekers nie.

Hier is verdere wenke vir jou tafelplan.

Bruilof is Dinsdae om 21:30 op KykNET, kanaal 144.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category