Rooi + Lemmetjie { Soetsappige Somer }

rooi-en-lemmetjie-groen-troue

Rooi en lemmetjiegroen, as ‘n kleurskema vir die troudag, is beslis ‘n waaghalsige en speelse kombinasie. Wanneer die twee kleure egter op smaakvolle wyse geïmplementeer word, is die resultaat ‘n vars, treffende en verfrissende ontploffing van kleur. As jy immers op die kleurwiel loer, sal jy opmerk dat rooi en groen oorkant mekaar staan en dus komplementêre kleure is – gemaak om saam te staan, nes jy en manlief.

Die sleutel tot die kleurskema is om nie die kleure in oormaat te gebruik nie – minder is immers in die meeste gevalle meer. Kies ‘n basiskleur soos swart, wit, grys, beige of ivoor wat as die dominante kleur aangewend kan word – ‘n ligter kleur vir ‘n vars en klassieke tema, of ‘n donkerder kleur vir ‘n meer kontemporêre gevolg – en gebruik dan rooi en lemmetjie in strategiese plekke wat gaste se asems sal wegslaan.

Hier is ‘n paar idees en wenke vir ‘n kleurskema met oemf:

  • Vul vase, bakke, emmers en al wat ‘n hoekie en gaatjie is met kraakvars Granny Smith en rooi appels of suurlemoene en aarbeie.
  • Wat blommerangskikkings betref, het jy ‘n wye keuse van treffende rooi blomme tot jou beskikking, wat met groen loof, vetplante en ander blaartakke aangevul kan word.
  • Skop die spyskaart met ‘n vars groenslaai af, propvol geroosterde pikantrissie en kersietamaties, met hemelse mini lemmetjie- en aarbeikaaskoekies asook vars aarbeie en pepperment-tert as nagereg.
  • Vir ‘n lighartige tema wat die ligte karakter van die kleurskema weerspieël, kies ‘n buitelugvenue waar die groen bome die ambians skep en laat gaste op rooi blokkieskomberse sit of bedek die tafels met rooi en wit tafeltoeke.
  • Verwelkom gaste met aarbei- en lemmetjie-margaritas asook soortgelyke vrugtesappe.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category