Rustieke Vlootblou { Plattelandse Drama }

rustieke vlootblou-kleurskemas

Vlootblou is ‘n kleur wat oor die algemeen met strandtroues en seevaart-temas geassosieer word, maar díe keer sit ons ‘n ietwat meer rustieke aardse kinkel op die ou gunsteling. Die sleutel tot sukses lê hier nie soseer in die manier waarop jy die kleur self gebruik nie, maar eerder in die keuse van elemente en materiale waarmee jy die kleur kombineer.

Om mee te begin, in plaas van wit as basiskleur, kies ‘n warmer skakering soos ivoor, room, beige of selfs sjampanje om daardie huislike gevoel van knusheid aan die kleurskema te verleen. Ander kleure wat jy met die vlootblou kan kombineer sluit in: Neutrale en natuurlike kleure soos grys, sand en enige ander skakering van bruin, asook vars en aardse groene.

Teksture gaan ‘n groot rol speel wat die rustieke ambians betref, so speel rond met kombinasies van goiing, leer, rou katoen, kant en organiese geweefde materiale. Verder kan jy met sagter en meer vloeiende materiale eksperimenteer, soos onder andere kant, sjiffon, tulle en net (waarvan die kante mooi uitgerafel is), asook oulike patrone soos “plaid” en chevron. Vermy swaar en blink materiale wat met die rustieke natuur van die kleurskema kan bots.

Egte herwinde elemente uit die natuur is ‘n absolute móét wat die dekor betref – voorbeelde hiervan sluit in: Vlootblou krismisrose, wilde bloubessie takke, pouvere en vetplantjies met ‘n blou ondertoon. Vintage elemente soos koekblikke, laaie en vensterrame waarvan die blou verf afdop kan ook ekstra dimensie en karakter aan die tema verleen.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category