Geskenke vir die Gevolg { Idees + Inspirasie }

Die strooimeisies en –jonkers is soos jou en jou aanstaande se taakmag in aanloop tot die groot dag: Van hartjies op kaartjies plak tot koue voete warm maak – as jy jou gevolg reg gekies het, is daar niks wat hulle nie vir jou sal doen nie. Nou is die vraag: Hoe bedank ‘n mens hulle vir hul waagmoed en durf, ondersteuning en bystand?  Die winkelrakke loop natuurlik oor van roompies, sepies en likeursjokolade wat enigeen se hart sal laat smelt, maar kom ons kyk bietjie na alternatiewe maniere van dankie sê…

Spesiaal vir die Strooimeisies

Daar is min dinge wat ‘n meisie so geniet soos om gepamperlang te word, so bederf jou gevolg met ‘n spa-geskenkbewys of iets in die grimering lyn. ‘n Oulike idee is om vir elke strooimeisie die lipstiffie, naellak en oogskadu te gee wat sy op die troudag dra sodat sy sommer terselfdertyd haar grimering kan opknap en dit as ‘n aandenking van die dag kan hou.

Nog idees:

  • Geskenkbewys vir die haarsalon
  • Juweliersware
  • ‘n Mooi haarstuk om sommer op die dag ook te dra
  • Luukse lyfroom
  • ‘n Mandjie aarbeie, sjokolade en room
  • ‘n Donsige kamerjas

Tyd – die kosbaarste kommoditeit

Voor die troudag is daar soveel dinge wat jou aandag verg dat jy nie veel aandag aan jou gevolg kan skenk nie. Deur dus na die troue spesiale tyd in te ruim vir die strooimeisies en –jonkers laat jy hulle ekstra spesiaal voel. Maak ook ‘n punt daarvan om die dag oor húlle te gesels, selfs al borrel jy oor van wittebrood nuus.

Bruid en strooimeisies:

  • ‘n Dag by die spa
  • ‘n Inkopietog
  • ‘n Ontbyt by ‘n plaasstal of “high tea”
  • ‘n “Chick flick” – aand sonder die manne met baie bederfies
  • ‘n Piekniek

Bruidegom en strooijonkers:

  • ‘n Brandewyn toer
  • “Paintball”-uitstappie
  • ‘n Manne-aand of sommer ‘n lekker braai
  • Iets soos ‘n “Die Hard”- of James Bond-fliekmaraton

Raak romanties

Indien elkeen van die strooimeisies ‘n deksel of aanhangsel het, reël vir hulle ‘n romantiese verrassing as paartjie: ‘n Piekniekmandjie met sjampagne en aarbeie, ‘n aand by ‘n vakansie-oord of ‘n romantiese kersligete by hul gunsteling restaurant. So hou jy ook by die tema van liefde wat reeds op jul groot dag geheers het.

Bly te kenne

Gee vir elke lid van die gevolg ‘n geskenk wat wys dat jy hom of haar ken, iets wat hul stokperdjie of persoonlikheid weerspieël. Die punt van hierdie tipe geskenk is om die “ah! Ek kan nie glo jy’t onthou nie!” reaksie uit te lok en die persoon kosbaar en voel. Indien jy ‘n kreatiewe siel is, kan dit selfs iets wees wat jy self gemaak het!

Byvoorbeeld:

  • ‘n Gunsteling boek
  • Kaartjies na hul gunsteling teaterstuk
  • ‘n Kookboek of iets soos ‘n pepermalertjie of verskeidenheid speserye
  • Tuingereedskap of saad
  • Lidmaatskap vir ‘n tydskrif
  • Lidmaatskap by ‘n wynklub
  • Visvanggereedskap
  • ‘n Sportjoernaal

Klasse te Kus en te Keur

‘n Blink nuwe uitdaging of ‘n interessante interaktiewe klas kan dalk net jou vriende en vriendinne se horisonne verbreed en hope pret wees, veral as julle dit almal saam gaan doen. Onthou net om die persoonlikhede van die verskeie maters ingedagte te hou – Nig San van die platteland gaan dalk nie baie in haar noppies wees as jy vir haar ‘n geskenkbewys vir ‘n paaldansklas gee nie.

Byvoorbeeld:

  • Dansklasse (soos Salsa of Tango)
  • Kookklasse (iets interessants soos sushi, Thai of Italiaans)
  • Keramiekklasse
  • Pilates-klasse

Waagduiwels

Indien die hele gevolg jonk en avontuurlustig is, spreek af op ‘n dag wat julle almal saam-saam ‘n waaghalsige uitdaging aanpak.

Byvoorbeeld:

  • Reksprong
  • “Parachuting”
  • “Kite surfing”
  • ‘n Wandeltog deur die nekke van die berge
  • Swem in die haaihokke

Doen dit self

Deur vir elkeen ‘n geskenk te gee wat hulle fisies kan gebruik of self aanmekaar moet sit, voeg jy ‘n ekstra dimensie tot die goeie gebaar. As dit boonop iets buitengewoons en oorspronklik is, kan jy verseker weet dat dit nog maande later om die kaggelvuur bespreek gaan word.

Byvoorbeeld:

  • ‘n Koffie plunder en koffiebone
  • Sushi gereedskap
  • “Scrapbooking”-stel (met ‘n foto of twee van julle troudag)
  • Fondue-stelletjie.

Die idees is letterlik eindeloos! Solank jy egter jou gevolg die middelpunt van die aandag maak, is jou kop deur.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


  • Christie

    Dit gaan baie hulpsaam wees baie dankie!!

  • Rita van Zyl

    Baie ougat idees dankie sou dit nie somer self kon uitdink nie

  • Ronel de Vos

    Oulik ♥

  • Tanya

    Oulike idee’s, baie dankie julle!

  • Reline

    Ek sal nou van so geskenkie hou

  • EUWETTE

    DANKIE!!HET AMPER VERGEET DAARVAN.

  • anneke

    Ek wil net weet wat kan die strooimeisies vir die bruid gee as geskenkies? oral is oulike idees soos ‘n “hamper” wat die bruid vir haar strooimeisies kan gee, maar is daar idees andersom ook? Sal bly wees as julle kan help

Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category