Geld as Geskenk { Die Voor- en Nadele }

geld-as-trou-geskenk

Deesdae is dit nie juis meer ongewoon vir ‘n paartjie om vir kontant eerder as geskenke te vra nie. Tog is daar ‘n hele paar faktore wat jy in gedagte moet hou voor jy jou hart op ‘n kontantkoevertjie sit en die uitnodigings-bewoording aanpas:

Die Voordele

Julle kan koop wat julle nodig het

Doerietye het bruid en bruidegom sommer direk uit ma en pa se huis getrou; Meeste moderne paartjies het egter reeds hul voete gevind en klaar nesgekop. Dit beteken dus dat julle tien teen een al reeds meeste van die basiese benodighede besit om ‘n huis in ‘n tuiste te omskep, en trougeskenke dus net oorbodig wees. Kontantgeskenke sal julle in staat stel om díe items aan te skaf wat julle wel nog benodig en die moeite spaar om geskenke te gaan omruil.

Julle kan meer op die troue spandeer

Troues is duur! Kontantgeskenke kan die verskil beteken tussen ‘n bord kolwyntjies en daardie 5-laag sjokolade mousse koek-skepping waarop jy reeds jou hart verloor het. Al kan mens nie juis op ‘n vaste bedrag staatmaak nie, sal kontantgeskenke help om die finansiële las ligter te maak en keer dat julle te veel skuld aangaan. As julle boonop al jul spaargeld op die troue spandeer het, het julle ten minste ‘n waarborg dat daar ‘n ietsie in die sak sal wees teen die tyd wat die wittebrood aanbreek.

Die Nadele

Julle het niks om te “wys” nie

In meeste gevalle is ‘n pasgetroude paartjie só oorweldig deur afbetalings en troudag-skuld, dat mens al die geskenkgeld gebruik betalings te dek. Al is daar hoegenaamd niks hiermee verkeerd nie, sal dit beteken dat julle geen fisiese geskenke gaan hê om as herdenkings te hou nie.

Hoe om dit te vermy:

Gebruik gerus die geskenkgeld om jul uitgawes te dek, veral as dit oorspronklik die motivering agter die geld as geskenk idee was. Hou egter ‘n klein bedraggie opsy sodat julle ten minste een fisiese geskenk kan koop wat julle as “trougeskenk” kan koester.

Dit kan as “onpersoonlik” beskou word

Baie gaste, veral die ouer- en meer tradisioneles van aard, sien geld as ietwat koud en “nie uit die hart nie”. Gevolglik mag hulle effens onentoesiasties wees wanneer die “geld asseblief” uitnodiging in die posbus beland.

Hoe om dit te vermy:

  • Neem ‘n foto van dit wat julle met die geskenkgeld gekoop het en sluit dit by die dankie-briefies in. So kan gaste self sien waarvoor hul kontantgeskenk gebruik is.
  • Verskaf ‘n lys geskenke en gee gaste die geleentheid om te kies waartoe hulle ‘n bydra wil maak.
  • Vra liefs geskenkbewyse vir ‘n spesifieke winkel aan of maak ‘n geskenk-register by ‘n paar van jul gunsteling winkels oop – ‘n meer persoonlike alternative vir koue kontant.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category