Bruilof Brokkies { 11 September }

En voor ons ons oë kan uitvee is dit alweer Woensdagoggend, wat beteken dat nog ‘n week verby is sedert die laaste episode van Bruilof en ook dat ons ‘n week nader aan jou groot dag is! Die tyd raak min, so hier’s ‘n paar wenke uit gisteraand se episode om jou te help om die leisels bymekaar te hou:

Tema troues: Fleur le Cordeur

  • Die kleurskema wat glo die komende trouseisoen die industrie gaan oorrompel is kruisement, suurlemoen en goud.
  • Wanneer julle op ‘n tema besluit, stel vas wat julle gekombineerde styl is en watter tipe atmosfeer julle geaardhede die beste sal weerspieël.
  • As een stukkie van ‘n legkaart nie pas nie bederf dit die groter prentjie so sorg dat alles van die uitnodigings tot die servet ringe by die tema pas.
  • Die geheim tot ‘n geslaagde en treffende tema is om nie kompromis te tref nie. Deur af te wyk van jou tema, verswak dit as ‘n geheel.
  • Kies beligting en musiek-genres wat die styl en atmosfeer van die tema komplementeer om dit tot ‘n multi-dimnsionele vlak verhef.
  • Waak daarteen om alles wat vir jou mooi is in een afgewaterde tema te probeer saamvleg.
  • Sit vooraf vir jou diensverskaffers ‘n inspirasiebord aanmekaar om vir hulle `n visuele prentjie te skep van wat jy ingedagte het.

Vind ‘n kleurskema of tema vir jou groot dag!

Gastegeskenkies: Aleit

  • Daar is vyf vereistes waaraan ‘n gastegeskenkie moet voldoen:
    1. Dit moet bruikbaar en besonders nuttig wees.
    2. Kies ‘n geskenkie wat die gaste sal WIL hou en nie agterlaat nie.
    3. Dit moet uniek aan die troudag, styl en persoonlikheid van die bruidspaar wees.
    4. Kies iets wat jy nie alledaags sien of sommer by die supermark kan koop nie.
    5. Dit moenie deel van ‘n stel vorm nie, byvoorbeeld een wynglas of teekoppie nie.
  • Om te verhoed dat gaste hul geskenkies op die tafels agterlaat, deel dit eerder by die deur met die uitgaanslag uit.
  • As die begroting nie duursame geskenkies toelaat nie, is geen geskenkie beter as ‘n afskeep produk.
  • Bederf gaste en gevolg met geskenkies wat hulle op die dag kan eet of selfs dra, soos byvoorbeeld ‘n strikdassie of waaiertjie.

Besoek ons geskenk-kategorie vir meer idees!

Die Huweliksbevestiger: Jalize Uys

  • Maak die seremonie jou eie – moenie skaam wees om van die tradisionele gang van sake af te wyk nie.
  • Sommige gelowige pare gebruik nagmaal net voordat hulle in die huwelik bevestig word, terwyl ander kerse aansteek of klokkies lui as ‘n herinnering aan mense wat in die gees teenwoordig is.
  • Oorweeg dit om die tradisionele troumars met ‘n betekenisvolle stukkie musiek te vervang.
  • Wanneer jy jou troubeloftes skryf, onthou dat jy dit nie vir die mooiweerstye maak nie, maar vir die dag wat jy jou goed wil pak en die pad vat. Kies dus woorde wat by jou sal “spook”.
  • Dit is belangrik om nader aan die groot dag sekere take en reëlings aan vriende en familie toe te vertrou sodat julle as paartjie ten volle teenwoordig kan wees.
  • As jy nie gemaklik is nie, kan jy nie ten volle konsentreer nie so maak dus seker julle kies gemaklike trouklere.
  • Vergeet van die tierlantyntjies – die mooiste troues is die wat jou hart raak, jou weer in liefde laat glo en jou inspireer om meer lief te hê.
  • Moenie dink huweliksvoorbereiding is ‘n mors van tyd nie – dit lê bloot die fondasie vir ‘n gelukkige huwelik.
  • Identiteitsdiefstal is ‘n realiteit. Maak vroegtydig seker dat jou huwelikstatus by Binnelandse Sake korrek is.

Vind ‘n huweliksbevestiger in jou area!

Troufotografie: Lizelle Lotter

  • Jy het jou rok spesiaal vir daardie een onvergeetlike dag laat maak, so gryp die geleentheid aan om lekker laf te raak tydens die fotosessie, selfs al haak dit aan ‘n takkie of so.
  • As jy kamera-sku is, oorweeg dit om ‘n paar rekwisiete vir die fotosessie te gebruik – dit laat mens dadelik ontdooi.
  • ‘n Verlowingsfotosessie is die ideale manier om kamera-fobië hok te slaan en die fotograaf geleentheid te gee om julle te leer ken.
  • Die idee van die fotosessie is nie om die perfekte foto’s te neem nie, maar om die ware geur van die dag op glanspapier vas te vang.
  • Wanneer dit by foto-redigering kom, word die styl en kleur grootliks aan die fotograaf se diskressie oorgelaat, so maak seker jy bestudeer sy/haar portefeulje sorgvuldig.
  • Probeer om die aantrekkamer so netjies as moontlik te hou vir die bruid se voorbereidingsessie.
  • Bring enige unieke aspekte van die dag onder die fotograaf se aandag, byvoorbeeld ‘n blommerangskikking wat jou ouma gemaak het of bottels ingevoerde sjampagne.
  • Moenie skaam wees om tydens die onthaal jou fotograaf se aandag te trek en dit te vestig op spesifieke bêre-oomblikke nie.

Besoek ons fotografie-kategorie en vind ‘n fotograaf in jou area!


  • Reline

    Baie dankie

Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category