Suig-Suig So! { Vrolike Strooitjies }

labelled-bottles

moustache-straw

hearts-and-cocktails

groom-straw

gray-straws

cake-pop-straws

black-and-white

apple-cocktail

As daar een ding is wat sommer dadelik die kind in jou hart wakker maak, dan is dit nou maar eenmaal ‘n strooitjie. Hierdie eenvoudige apparaatjie het die trou-bedryf behoorlik aan die gons, en voeg outomaties ‘n sweempie pret en kleur by enige geleentheid.

Oor die algemeen kan strooitjies vir die verwelkomings- en mengeldrankies gebruik word, en is veral oulik saam met ouderwetse flessie-glase en koeldrankbotteltjies. Maar wie’t gesê dit moet daar stop? Bedien vrolike melkskommels of dom pedro’s met strooitjies vir nagereg en kikker ‘n glas vaal sjampagne met ‘n helderkleurige strooitjie op.
Hier is nog ‘n paar idees om die inspirasie deur die strooitjie te laat vloei:

  • Vir ‘n feestelike karnaval atmosfeer, kies tweekleurige strepie-strooitjies wat pas by jou kleurskema.
  • Knip rooi lippies, snorre en hartjies uit papier, en sny ‘n kruis in die middel waardeur die bo-punt van die strooitjie kan glip. Dit sal omtrent jou gaste se lippe laat klap!
  • Plak ‘n “vlaggie” om elke strooitjie waarop jy enigiets van die gas se naam tot “drink my” of “welkom” kan skryf.
  • Koop buitengewone en stewige plastiekstrooitjies wat mens weer en weer kan gebruik, sodat gaste dit as geskenkies kan huistoe neem.
  • Beweeg weg van gewone strooitjies – loer en vra bietjie rond vir kinderlike strooitjies met ‘n paar kinkels en draaie.
  • Snuffel in lekkergoedwinkels rond vir jellystrooitjies. Nie net is dit heerlik om aan te peusel nie, dit gee sommer kleur aan enigiets van die gastetafel tot die lekkergoedbuffet.
  • In plaas daarvan om met gekleurde stokkies te sukkel, gebruik strooitjies as “vlagpale” om jou vlaggies in kollewyntjies en die troukoek te plant.

Alle foto’s en hul bronne is op Pinterest beskikbaar.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category