Pasta Buffets { Bellissimo! }

Pasta is een van daardie raar kossoorte wat feitlik almal se goedkeuring wegdra – of dit nou ‘n student op ‘n skoenveter-begroting is, of ‘n deftige tannie van Pretoria wat die Pienaars wil beïndruk met haar Italiaanse vernuf.

Met so ‘n verskeidenheid smake, nukke en grille saam onder een onthaalsaal se dak, kan die spyskaart maklik in ‘n volslae kopseer ontaard. Iets soos ‘n pasta buffet is dus die ideale oplossing wat feitlik almal op die gastelys se palette tevrede sal stel! Boonop lig dit die gemoedere, of so sê die slim mense – presies wat ‘n troudag na vra!

Daar is basies vier roetes wat jy met ‘n pasta-buffet kan inslaan:

  1. Tradisionele Pasta-Buffet: Soos enige gewone buffet word groot bakke kos (in die geval verskillende pastas) voorgesit en gaste kan hulself help.
  2. Interaktiewe pasta-stasie: Hier kan gaste, met die hulp van ‘n sjef, self die bestanddele vir hul pasta kies. Vir so ‘n stasie sal jy dus klaargemaakte paste benodig asook ‘n verskeidenheid souse en bestanddele soos vleis, groente, kaas, ens…
  3. Koue pastaslaaie as voorgereg: Ideaal vir die bruid wat liefs haar gunsteling salm of beesfillet as hoofgereg wil bedien, maar steeds ‘n bietjie pasta iewers wil inwerk. Onthou net om vir gaste klein bordjies te gee sodat hulle nie te veel kan skep en hul aptyt voor die hoofgereg kniehalter nie.
  4. “Buffet-to-table”: ‘n Miniatuur-buffet word op elke gaste-tafel gedek. So word die vermorsing wat met ‘n tradisionele buffet gepaardgaan voorkom, en ‘n meer familie-ete gevoel word geskep. Kies dus vier of vyf pastas wat al die smake en voorkeure om die tafel sal tevrede stel.

Sodra jy op ‘n opsie besluit het, raak lekker laf en speel met…

Pasta-vorme: Probeer ‘n ietsie van alles op die buffet-tafel hê om dit interessant te hou:

  • Vermy liefs lang pasta soos Angel Hair, spaghetti of bacutini wat mens om die vurk kan draai. Ervaring en fliek-oomblikke het ons al geleer dat die lang drade nie maklik eet nie en dus nie ideaal is vir ‘n spoggeleentheid soos ‘n troue nie.
  • Lint-noedels (ook lank, maar plat en dus makliker om te eet) byvoorbeeld fettuccine, linguine en tagliatelle.
  • “Pypie-pasta” soos rigati, elmbogies, penne en rigatoni waarin die sous so lekker kan inkruip.
  • Interessante vorme soos farfalle (strikdassies), fusilli (kurktrekkers) en ruote (wawiele) sal veral die jonger gaste geweldig beïndruk.
  • Gevulde paste soos agnolotti, ravioli en tortellini is heerlik en selfs meer vullend as ‘n meer tradisionele pasta-gereg.

Souse: Die tekstuur en geur van ‘n sous kan die smaak van ‘n dis radikaal verander. Skep dus variasie deur pastas met witsous, tamatiebasis, kaassous of ‘n ligte vinaigrette voor te sit om alle smake te bevredig.

Vleis: Maak seker dat daar vegetariese en nie-vegetariese pasta-geregte op die spyskaart is sodat almal van jou blommekind niggie tot jou oom van Transvaal lekker saam kan eet. Deur ook ‘n verskeidenheid vleissoorte by te voeg – salami, spek, ham, pastrami, noem maar op – kan selfs die vleisetende gas ‘n wye spektrum geure geniet.

Kaas: Italiaanse mammas sal glad nie beïndruk wees as daar nie ‘n bakkie kaas of twee saam met die paste bedien word nie. Sit dus ‘n verskeidenheid keurige en geurige kase voor wat die verskillende disse komplementeer.

Bykosse: Onthou dat pasta besonders vullende is, dus is dit belangrik om  eerder ligter bykosse soos vars slaaie en groente saam met dit te bedien. Hou ook die nagereg lig en geurig om die “magies vol, ogies toe” verskynsel te voorkom.

WENK: As pasta koud raak, kleef dit aanmekaar vas en kan in ‘n oneetbare gemors ontaard. Maak dus seker dat die sjef sy storie ken en genoegsame ervaring met pasta het.

Besoek gerus ons spysenier-afdeling!

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


  • Lani

    Baie oulike idee!

  • Reline

    Mmmmmmm lyk heeeeeerlik

  • Rita van Zyl

    Fantastiese idee skoon pa is Italiaans so dit sal mooi in werk

  • Ronel de Vos

    Great Idees ♥

  • Jennifer

    Pasta bly die beste!!!!

Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category