Kategorie: Artikels, Ditjies en datjies

Mooie Modes vir Mammas { Klere + Kleure }

‘n Regaf knielengte romp met ‘n bypassende driekwartmou-pofskouer-baadjie – die tipiese troupakkie waaraan mens dink as iemand sê “ma van die bruid”, en wat modern bruidsmoeders behoorlik laat sidder. Soos een van ons lesers ook onlangs uitgewys het, is dit omtrent hoogtyd dat hierdie stigma gebreek word en dat ons vir die stereotipiese bruidsmoeder ‘n nuwe jassie aantrek. So, pragtige trotse ma, hierdie stukkie klere inspirasie is spesiaal vir jou.

Waar om te begin

As moeder van die bruid of bruidegom, moet jy die asems wegslaan sonder om die fokus van die bruid af te trek. Makliker gesê as gedaan, né? Voor jy eers hoef te dink aan winkels invaar, begin by die huis deur ‘n paar tydskrifte deur te blaai: Kyk na kleure wat jou gelaatskleur sal pas en snitte waarin jy gemaklik sal voel. Besluit wat jou beste bate is wat jy wil beklemtoon, en watter deel van jou liggaam jy die aandag eerder van wil aflei. So kan jy klaar besluit op ‘n kort of lang rok, die tipe halslyn, hoe nousluitend dit kan wees en die lengte van die moue, nog voordat jy voet in ‘n winkel gesit het of ‘n woord met ‘n ontwerper gewissel het.

Laat die inkopietog…’n bietjie wag

Tradisioneel is die ma van die bruid die laaste person om haar rok te koop of laatmaak omdat sy so besig is om te help verseker dat haar dogter soos ‘n feëprinses te lyk op haar groot dag. Dit gee jou ook kans om te loer wat die pragtige bruid vir haarself en haar strooimeisies kies om jou so ‘n idee te gee van wat sy ingedagte het. Deur eers ‘n bietjie aan te hang kan jy ook verseker dat jy nie per ongeluk in dieselfde kleur rok as die strooimeisies jou opwagting maak nie. Tog moet jy ook nie te lank op jou laat wag nie – sodra jou dogter op haar rok besluit het, is dit tyd om die winkels op horings te neem of met ‘n ontwerper te gaan gesels. Begin so ses maande voor die troue al rondloer as jy kan – jy wil dit immers nie tot op die nippertjie los en met die oorskiet opgeskeep sit nie.

Gesels met die bruid

Onthou jy daardie prentjie van jou droom troue wat jy destyds in jou kop gehad het? Wel, jou dogter het self so ‘n prentjie in haar kop, en dit lyk dalk heeltemal anders as wat joune gelyk het.  Dus is dit belangrik dat jy by jou lieflingkind gaan aanklop om te hoor in watter tipe uitrusting jy pronk in haar ideale prentjie, voor jy jou hart op ‘n spesifieke uitrusting sit. Vra haar om vir jou ‘n paar prentjies uit ‘n tydskrif te knip van wat sy ingedagte het om te verseker dat julle op dieselfde golflengte is. Moet ook nie dadelik net “nee” sê as jy nie van haar voorstelle hou nie – gaan doen eerder saam inkopies, geniet ‘n bietjie kwaliteit ma-en-dogter tyd, snuffel saam rond en kyk of julle op iets kan besluit waarvan julle albei hou.

Van koekerig na kokend

Elke dogter wil trots wees op haar beeldskone ma by wie sy haar gene geërf het, en dis vanselfsprekend dat elke ma op haar beste wil lyk op haar dogter se troudag. Die mense gaan immers fotos neem! Pak dus die kerkpakkies terug in die kas en moenie skrikkerig wees om ‘n bietjie sexy te lyk nie. Pronk met jou natuurlike kurwes in ‘n effens noupassende nommertjie of kies ‘n laer halslyn wat jou bates mooi beklemtoon. Solank dit binne perke is en nie die aandag van jou dogter aftrek nie, moet niks jou keer om beeldskoon te voel en lyk op die groot dag nie. WENK: Bly ver weg van enige skakerings van wit of room, of watokal die kleur is wat die bruid vir haar rok gekies het.

Van een ma tot ‘n ander

Gesels met die bruidegom se ma en hoor wat sy gaan aantrek; nie om te spioeneer nie, maar eerder om te verseker dat julle pragtig lyk sonder om mekaar se kollig te steel. Die ideaal is dat die twee moerderfigure op dieselfde vlak is wat glans, styl en gewaagdheid betref, maar in verskillende kleurskemas. Altwee is ewe belangrik so probeer dus ‘n uniek en glansrykke voetjie voorsitk sonder om meer aandag as Moeder #2 te trek.

Tot volgende keer?

Of jy die rok weer sal dra of nie is ‘n baie belangrike besluitnemingsfaktor, en nie net vir ekonomiese redes nie. As die antwoord “nee” is, vra jouself hoekom nie? Is dit te uitspattig? Wel, dan is dit dalk ook nie regtig geskik vir ‘n troue nie. Is dit nie regtig jou smaak nie? Dan sal jy ook nie gemaklik voel by die troue nie. Dus, as jy dit nie weer gaan dra nie, is die kanse baie goed dat dit moontlik ook nie die regte rok is om na jou dogter se troue te dra nie. Die beste wenk is om ‘n eenvoudig dog elegante rok te koop wat jou liggaam vly, en wat jy maklik met ‘n baadjie of ‘n belt in ‘n vars uitrusting kan omskep – so het jy dan ook meer opsies op die groot dag.

Voor jy ‘n uitrusting koop, vra jouself hierdie vrae af. Sodra jy “ja” op elkeen kan antwoord, weet jy jy het die regte nommertjie beet:

  • Sal alle oë steeds op my dogter gevestig wees?
  • Pas dit min of meer by die kleurskema van die troue?
  • Is dit ‘n kleur buiten beige, cream of enige ander skakering van wit?
  • Kan ek dit voor die bruidegom se famile of die dominee dra sonder om aanstoot te gee?
  • Is dit min of meer op dieselfde styl en glans vlak as die bruidegom se ma se rok?
  • Is dit ‘n ander kleur as die bruidegom se ma se rok?
  • Sal ek die rok ooit weer na ‘n glansgeleentheid dra?
  • Is die rok geskik vir die tyd van die dag wat die troue plaasvind?
  • Wys dit of my natuurlike kurwes of het dit ‘n vleiende halslyn?
  • Laat dit my mooi en glansryk voel?
  • Voel ek gemaklik en sal ek die dag ten volle in hierdie rok kan geniet?

As die antwoord JA! is, het jy jou trounommertjie gekry – wys jou kurwes, voel en lyk soos die moeder van ‘n prinses en maak jou dogter so trots op jou soos wat jy op haar is.

Uitrustings beskikbaar by Crystal Brides



Soortgelyke artikels:

17 Aanmerkings op Mooie Modes vir Mammas { Klere + Kleure }

  1. Lina du Preez says:

    Wat is die prys van die nommertjie/slide 2/18? Ligte pienkerige lang rok?

  2. thea says:

    My seun trou Oktober. Dit is ‘n oggentroue. Wat trek ek aan?

  3. Tertia van Zyl says:

    Wat van Moeders wat bietjie vetter is as hierdie ? Nommer 38 of 40?

  4. jEANETTE says:

    My dogter trou die 15de September. Ek wil weet of ek ‘n broekpak mag aantrek die skakering van haar troue is rooi,swart,wit en silwer. Sal ‘n swart langbroek met ”n swart en rooi bloes met ‘n baaidjie daarby goed lyk? Waar vind ek so iets? Of bly ‘n mooi rok maar in die mode?

  5. MEV CHRISTA SNYMAN says:

    Kan julle vir my n prys gee op die negende rok van bo af dit is wyn rooierige rok met valle tot onder. Kan die rokke in ander kleure bestel word.
    Baie dankie

  6. Insie Visser says:

    Ons seun trou Maart volgende jaar. Hulle kleurskema is rooi, swart en silwer. Ek het nie ‘n idee na watter kleure ek moet kyk nie. bruidsrok is wit, bruidsmeisies swart cocktail tipe rokke. Raad asb?

    • Trou Inspirasie says:

      Hi Insie. Dis dalk ‘n wyse besluit om met die bruid te praat en te hoor wat sy verkies. Dalk wil sy hê jy moet in pas by die kleurskema of heeltemal weg bly van swart en rooi. Verder moet jy kyk wat by jou velkleur en gelaat pas.

  7. Maggie Koekemoer says:

    Ons seun trou in September die kleurskema is wynrooi en silwer. My seun en aanstaande skoondogter wil dit troue semi tot formeel hou. Ek het nie ‘n idee wat om aan te trek nie, want die troue begin drie uur die middag en hou aan tot en met elf uur die aand. So moet ek ‘n lang aandrok kry of iets soos ‘n cocktail rok of miskien ‘n broek pakkie. Ek is ook bang vir wat die mense gaan sê want daar is altyd ‘n geskinder agterna. Help my asb

  8. Martie Visagie says:

    My dogter trou dv 5 Oktober en ek het nie klere nie , die fotos hierbo is pragtig, maar waar kan ek van die uitrustings besigtig en of aanpas.

  9. ELLEN VAN WYK says:

    Ek net n bronze rok maar ek weet nie watter kleur skoen kan ek daar mee aantrek nie.

  10. ELLEN VAN WYK says:

    Ek wil weet watter kleur skoen pas by n bronze rok

  11. Elna Kupke says:

    Ek het ‘n vreemde versoek. My aanstaande skoondogter wil ‘n wester se tema (cowboy troue) hê. Ek was glad nie tevrede met die idee nie, maar sy wil dit hê en alles is amper klaar gereël. My probleem is net, ek het nie ‘n benul van wat om aan te trek nie. As aanstaande skoonmoeder wil ek ordentlik lyk, maar daar was gesê geen formele kleredrag nie, dit moet stewels wees, ek kan myself nie indink om in die kerk te gaan sit met ‘n jean nie!!! Ek is regtig raadop, want ek het al probeer google maar kry nie juis enige iets wat vir my die behoorlike leiding gee nie. Wat stel jy voor. Miskien het jy dalk ‘n idee of twee !!

  12. fransie rowles says:

    my dogter se kleur skema is wit/wynrooi en silver.
    die strooimeisies trek alreeds wynrooi aan,
    enige raad? gedink dalk iets wynrooi en silver?

    enige voorstelle waar ek kan begin kyk in rustenburg?
    is eientlik van Botswana het nie n benul waar om te begin nie.
    dankie Fransie

  13. babs says:

    wil graag weet waar ek die boonste pienkerige rok kan koop

  14. Jeanette Hay says:

    Hello, ek is opsoek na rokkie vir my dogter se troue. Ek hou baie van twee van die rokkies. Waar kan ek die rokkies besigtig? Wie kan ek kontak asb?
    Groete
    Jeanette

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>