Kategorie: Ditjies en datjies, Geskenkies

Hoe sê mens dankie? { Ietsie Anders }

Meeste gaste reis van ver om julle troue by te woon, dra geskenke aan, pamperlang julle tot in die afgrond in en vier saam fees dat die byle huil. Is daar regtig genoeg geskenke, genoeg drukkies, genoeg woorde in die woordeboek om jou innige dankbaarheid uit te spreek? Raak oorspronklik!

Sing jou hart uit: As jy of jou aanstaande ‘n suiwer hoendervleis stem het, dra ‘n liedjie aan die gaste op of, as julle daarvoor kans sien, skryf vir hulle ‘n liedjie wat presies oordra hoe dankbaar julle is.

Sê dit met woorde: Skryf vir jou gaste ‘n gedig, ‘n regte tranetrekker of ‘n tong-in-die-kies limeriek oor hoe fantasties hulle is en hoe baie julle hul vriendskap waardeer. Hier is ‘n paar idees vir bewoording.

Gaste-geskenkies: Daar’s eindelose idees vir gastebederfies en maniere om jou gaste-geskenkies persoonlik en spesiaal te maak..

Persoonlike dankie-sê kaartjies: Niks sê werklik dankie soos ‘n persoonlike notatjie wat uit die hart geskryf is nie – so kan gaste sien dat jy werklik moeite gedoen het.

I O U: ‘n Persoonlike “ek-skuld-jou” kaartjie is basies ‘n geskenkbewys vir ‘n bietjie kwaliteit tyd saam met jou of jou verloofde, soos byvoorbeeld ‘n inkopietog saam met jou, ‘n piekniek saam met jou en jou aanstaande, ens.  Dit is ‘n uiters unieke en persoonlike geskenk en slegs gereserveer vir baie spesiale gaste. Maak seker jy sit wel die tyd eenkant om die belofte na te kom!

Skyfievertoning: As jy ‘n klein intieme troue beplan, sit ‘n skyfievertoning aanmekaar met ou foto’s van jou of jou aanstaande met elkeen van die gaste. Dit kan vele lekkerlag-oomblikke tot gevolg hê en sal elke gas baie spesiaal en geliefd laat voel.

Vakansie-tyd: Indien julle begroting dit toelaat, kan julle vir jul gaste akkommodasie in die omgewing reël vir die naweek van julle troue. So kan gaste dan na die troue vir ‘n ekstra dag of twee uitspan en kuier – daar’s immers geen beter geskenk as ontspanning en ontvlugting nie.

Poskaarte: Wanneer julle op wittebrood is, knyp ‘n tydjie af om vir elke gas ‘n poskaart te stuur met ‘n bietjie nuus en ‘n persoonlike notatjie. So voel gaste asof hulle deel het in julle eerste groot vakansie saam as getroudes.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest



Soortgelyke artikels:

3 Aanmerkings op Hoe sê mens dankie? { Ietsie Anders }

  1. Jennifer says:

    Oulik

  2. Ronel de Vos says:

    Baie oorspronklike idees ♥

  3. Reline says:

    Dit is so moeilik om altyd jou dankbaarheid te wys, en hierdie kan dak net help. Baie baie dankie!!! ;-D

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>