Kategorie: Artikels, Ditjies en datjies, Spys en Drank

Heerlike Happies { Voorgereg-Wenke }

Die voorgereg is die inleiding tot die hoofmaal, die “prelude” soos die digters sal sê. Dus is dit belangrik om  goed te dink oor díe gereg en om goed te besin oor wat presies jy wil hê die inleiding tot jou spyskaart moet sê. Wanneer jy jou voorgereg kies is daar ‘n paar faktore om in gedagte te hou:

1. Dit moet die hoofgereg komplementeer

Selfs al wil jy jou gaste met elke gereg opnuut verras, moet al die geregte mekaar aanvul. Dit beteken nie elkeen moet ‘n eenderse spesery inhê of ‘n stysel-agtige gereg wees nie – inteendeel! Elke happie moet anders wees en die smaakkliere op ‘n splinternuwe nuwe reistog neem, maar jy gaan ook nou nie ‘n volksvreemde Hongaarse ingelegde seekat vir voorgereg bedien en dan dit opvolg met ‘n bord rys, vleis en aartappels nie. Net so wil jy ook nie ‘n tradisionele voorgereg voorsit en dit dan opvolg met ‘n kontemporêre hoofgereg wat amper helfte die grootte van die voorgereg is nie – jou gaste gaan beslis nie baie in hul noppies wees nie. Kies dus ‘n styl en hou daarby – so kan jou gaste volgens die voorgereg ‘n prentjie vorm van wat om verder te verwag.

2. Wat eet wie?

Die versoeking is dalk daar om Franse slakke in ‘n knoffelbottersousie as voorgereg te bedien, maar as jy voor jou siel weet driekwart van die gaste gaan die horries kry en nie daaraan wil raak nie, slaan maar liewer ‘n ander paadjie in. As jy regtig jou hart daarop gesit het kan jy altyd vir gaste ‘n keuse tussen twee voorgeregte gee, maar onthou dat dit weer vermorsing tot gevolg kan hê asook ekstra kostes. Kies dus ‘n neutrale voorgereg waarvan meeste sal hou en hou jou gunsteling vir die hoofgereg waar jy dan wel vir gaste ‘n keuse kan gee.

WENK: Vra reeds in jou uitnodigings dat gaste op hul RSVP-vormpie aandui watter hoofgereg hulle by die troue wil eet sodat jy weet hoeveel om voor te berei.

3. Die hoofgereg kom nog

Moenie ‘n voorgereg kies wat te groot en vullende is nie. Ja, gaste is dalk honger teen die tyd dat hulle by die onthaalsaal arriveer, maar bedien dan liewer vinniger die hoofgereg as wat jy hulle toegooi met ‘n kollosale hors d’oeuvre. Indien jy wel iets soos ravioli of ‘n burgertjie wil bedien wat die magies vinnig gaan volmaak, sit óf ‘n kleiner hoofgereg voor of hou bietjie terug en laat almal eers vir ‘n rondte op die dansvloer gaan.

Nou is die vraag: Watter variasie van voorgeregte kry mens alles? Wel, die dae van ‘n gevulde pannekoekie is verby en kreatiwiteit is aan die hand van die dag.

Trots Tradisioneel

Kerrie-maalvleis pannekoeke is dalk uit, maar vul daardie pannekoekie met ‘n roomkaas-en-salm vulsel of ham, heuning en Franse mosterd en skielik kry hy sommer nuwe lewe. Tradisionele disse met ‘n vars moderne kinkel is deesdae hoog in die mode en die idee is júis om ou gunstelinge uit toeka se dae te gaan haal en vir dit ‘n nuwe baadjie aan te trek. Hoe klink stokbrood met ‘n verskeidenheid eksotiese pestos, gourmet worsrolletjies of gekrummelde hoendervlerkies met ‘n eiervrug puree? Ja-nee, ons hoor sommer hoe water die monde.

Vir die Seekos-siele

Seekos is maar altyd gevaarlike terrein omdat mense se smaak daarin so uiteenlopend is. Indien jy dus vasbeslote is om seekos by jou troue te hê, is die voorgereg die ideale plek om dit te doen – die wat nie daarvan hou nie, kan solank ‘n broodjie eet, want die hoofgereg is darem nog oppad. Sjefs wat hul storie met seekos ken het in elk geval die unieke talent om enigeen in ‘n seekos-liefhebber te omskep, veral as jy name hoor soos kalamari gedompel in ‘n geurige kruiedeeg of mossels in ‘n romerige witwynsous met kruie en knoffel. Iets soos lynvis of gerookte tuna is gewoonlik ook nog gangbaar by mense wat nie hul reg as eersgeborene vir ‘n bakkie seekos sal verruil nie.

Volksvreemde Verleiding

Indien die meerderheid van die gaste jonk en avontuurlustig is, kan jy waag om die voorgereg ‘n trappie verder as “interessant” te neem. Maak van die geleentheid gebruik om jou gaste se smaakkliere aan splinternuwe geure bekend te stel uit ander kulture of lande en verander so die voorgereg in ‘n geselsstuk. Dit is veral oulik as die spesifieke gereg ‘n storietjie agter dit het, soos byvoorbeeld ‘n tradisionele dis van jul wittebroodsbestemming of uit die land van jul voorvaders. Hou maar die hoofgereg tradisioneel sodat almal darem teen die einde van die aand iets te ete kry.

Help Jouself

‘n Mini buffet of borde vingerhappies op die tafels is ‘n vars alternatief vir ‘n bediende voorgereg. So het gaste ook die vryheid om self te kies wat hulle wil eet en watter aardige lekkernye hulle liefs wil oorslaan. Bedien byvoorbeeld die voorgereg in Italiaanse antipasta-styl deur ‘n verskeidenheid koue vleise, slaaie en ligte pastas op ‘n ruwe houtplatform in die middel van elke tafel te bedien, of ‘n verskeidenheid brode met patees, konfyte en kaas voor te sit. Dit skep ‘n huislike, gesellige atmosfeer om die tafels en so leer selfs vreemdelinge mekaar binne ‘n oogwink ken. Die voorgereg word ook sommer deel van die dekor en dus kan jy ‘n rand of twee op uitspattig blommerangskikkings bespaar.

Vegetariese Fees

Indien jy ‘n hele paar vegetariërs by die onthaal verwag, kan jy dalk oorweeg om ‘n streng vegetariese voorgereg voor te sit. Met soveel ongelooflike en smaaklike vleis-vrye resepte wat deesdae beskikbaar is, sal selfs braaivleistande nie agterkom dat daar nie ‘n enkele repie vleis in die dis te vinde is nie. Boonop is vegetariese disse ligter op die sak en kan jy liewers meer spandeer op ‘n smullekker fillet vir die hoofgereg.

Alle foto’s, hul bronne asook meer voorgereg-idees is beskikbaar op Pinterest.



Soortgelyke artikels:

5 Aanmerkings op Heerlike Happies { Voorgereg-Wenke }

  1. Rita van Zyl says:

    dit is so mooi en oulik elk pas by hul tema

  2. Reline says:

    MMMMMM dit lyk heerlik!!!

  3. Lani says:

    oulike idee

  4. Ronel de Vos says:

    Lyk al te vol heerlik ♥

  5. Christie says:

    mmmm lekker hehe

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>