Kategorie: Ditjies en datjies, Skryfbehoeftes

Eendbekkies { Oulike Ysbrekertjies }

Eendjiebekkies, kwakkertjies, vragievoeltjies, papierbekkies, noem maar op! Wat ookal jy dit op skool genoem het, hierdie papierkreatuurtjies kan nie anders as om goeie herhinneringe aan pouses, geheime briefies, huppelspeletjies en beste maatjies op te roep nie. So verbeel net hoe jou gaste se bekkies gaan klap oor hierdie papiertoestelletjie op jou troudag! Ja, jy het reg gelees – op jou troudag.

Daar is ‘n hele paar oulike en oorspronklike maniere om dié ouskoolse papiervoëltjie deel te maak van jou spesiale dag:

  • Spyskaarte: Indien jy ‘n buffet-ete by jou troue gaan hê, kan eendjiebekkies ‘n lawwe manier wees waarop gaste kan kyk wat die “noodlot vir my maag bestem het”. Maak dus ‘n voorgereg, hoofgereg en nagereg bekkie vir elke tafel waarmee gaste lekker kan speel nes doeriejare in juffrou so-en-so se klas.
  • Naambordjies: Met vier hoekies tot jou beskikking, is daar meer as genoeg spasie om elke gas se naam, tafelnommer, datum en jou en jou aanstaande se name op die eendjiebekkie te laat druk. Na gaste klaar daarmee gespeel en baljaar het, kan hulle die goetergatertjies sommer ook huistoe vat as…
  • …Geskenkies! Eendjiebekkies is die ideale plakboek-geskenkie om jou gaste te herhinner aan die lekker geselsies en oomblikke om die tafel. Boonop is hulle baie goedkoop om te maak. Sien hieronder vir instruksies:

Vir ‘n bietjie meer hulp, gaan laai die ‘template’ hier af: http://ruffledblog.com/freebie-fridays-cootie-catcher-menu-template/

Met ag plekkies binne-in waar jy kan skryf, kan jy die eendjiebekkies vul met enigiets van spesiale aanhalings en boodskappe, tot vragies en uitdagings wat sommer sal dien as…

  • …Ysbrekertjies: Nie net is die eendbekkie ‘n geselsstuk op sy eie nie, maar die oulike speeding kan ook ‘n hulpmiddel wees om gaste aan die gesels te kry en mekaar te leer ken. Prop die bekkies vol vrae oor jou en jou bruidegom, feite of vrae oor ander gaste, of speelse uitdagings wat behoorlik die ys sal kraak en die lagspiere laat werk. Hier is ‘n paar voorbeeld-vragies om jou brein volstoom aan die dink te kry:

Vrae oor die bruidspaar:

  • Wat is die bruidspaar se gunsteling restaurant?
  • Waar is die bruidegom gebore?
  • Hoeveel rose het die bruid in haar ruiker?
  • Wat is die paartjie se gunsteling speletjie?
  • Wie is die hoof strooimeisie/-jonker?
  • Waar het die bruidegom die groot vraag gevra?
  • Wat is die bruid/bruidegom se gunsteling sport?
  • Waar gaan hulle vir hul wittebrood?
  • Hoeveel langer is die bruidegom as die bruid?
  • Wat versamel die bruidspaar graag?
  • Wat is die bruidspaar se spesiale liedjie?
  • Wat is hulle hond se naam?
  • Waar was hulle eerste afspraak?
  • Hoeveel kinders wil hulle eendag hê?
  • Wat is die bruid se “something blue”?
  • Waar was hulle eerste soen?
  • Wat is hulle troetelnaampies vir mekaar?
  • Hoe lank gaan die bruidspaar al uit?
  • Hoeveel broers en susters het hulle gesamentlik?
  • Wat is die bruid se spesialiteit in die kombuis?

Ysbreker-uitdagings

  • Vra ‘n vreemdeling om te dans.
  • Skud ‘n sjampagnebottel en laat die prop skiet.
  • Steel ‘n ander tafel se vurke.
  • Stel ‘n heildronk op die bruidspaar in.
  • Doen die Macarena!
  • Sluk ‘n glas sjampagne in een skoot.
  • Vra ‘n strooijonker/-meisie se nommer.
  • Doen ‘n toertjie met 4 broodrolletjies.
  • Sit ‘n liedjieversoek in en vra iemand om te dans.
  • Balanseer ‘n lepel op jou neus.
  • Sing ‘n liedjie vir die pasgetroude paartjie.
  • Stel jouself aan die bruid se ma voor.
  • Gaan steel ‘n rosie van die troukoek af.
  • Doen “die robot” op die dansvloer.
  • Begin ‘n “conga-lyn”.
  • Tik op ‘n glas vir die bruidspaar om te soen.
  • Kry ‘n rissie by die buffet-tafel en eet hom!
  • Gaan help om die bruidskar te versier.
  • Kry nog ‘n snytjie koek en deel dit met ‘n vreemdeling.
  • Skryf ‘n gediggie oor die paartjie in die gasteboek.

Eendjiebekkies is ontsettend veelsydig, so laat jou verbeelding gaan en kyk op hoeveel maniere jy hierdie nostalgiese papiervoëltjie kan herontwerp (en moenie vergeet om vir ons ‘n foto te stuur nie!)

Alle foto’s beskikbaar via Pinterest



Soortgelyke artikels:

9 Aanmerkings op Eendbekkies { Oulike Ysbrekertjies }

  1. Pingback: Kerkprogramme / Doen-dit-self | Trou Inspirasie

  2. Pingback: Gaste Geskenkies / Billike geskenk-idees | Trou Inspirasie

  3. Arnette says:

    Goeie dag,

    Ek trou die 13de Oktober en hou baie van die eendbekkie idee om vir ons kerkprogram te gebruik. Kan julle my dalk help met idees vir die bewoording op en in die eendbekkie?

    Hoop om gou van julle te hoor.

    Vriendelike Groete

  4. hester says:

    Ek moet ‘n heildronk instel op die bruid en bruidegom. Help asb. met die bewoording.

  5. Jacqui says:

    waar sal ek dit laat doen?

  6. Marietjie says:

    Kan mens dit klaar te koop kry.

  7. Hester says:

    Het julle dalk enige idees vir ‘n oulike manier vir ‘n heildronk op die bruidspaar. Ek en my suster moet saam die heildronk op ons broer en sy aanstaande instel.

    Het julle dalk oulike idees. ASB

    Dankie

  8. Pingback: Blou en Turkoois Kleurskema | Trou Inspirasie

  9. Pingback: Spyskaarte vir Troues | Trou Inspirasie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>