Enkelruikers { Boheems + Romanties }

enkelruikers

Wanneer die groot dag aanbreek gaan jy tien teen een ‘n bruidsruiker by die paadjie afdra, moontlik ‘n paar blommetjies in die hare en wie weet – dalk self ‘n paar bloeisels om jou gewrigte. So hoekom nie die prentjie vervolmaak deur ook jou enkels met vrolike blommetjies te tooi nie?

Enkelruikers is ‘n gier wat by die dag meer opslae maak, en díe boheems en romantiese bykomstigheid het die vermoë om jou soos ‘n regte bosnimf te laat lyk en voel. Deur die blom-element van kop tot tone deur te dra, skep jy boonop ‘n treffende en hoogs impakvolle voorkoms.

Tog is daar ‘n paar goedjies om in gedagte te hou wanneer jy ‘n enkelruiker oorweeg:

  • Die lengte van jou trourok: Enkelruikers werk net soveel beter by ‘n korter rok. Bo en behalwe die feit dat jy nie die enkelruiker onder ‘n lang vloeiende rok sal kan sien nie, loop jy ook die risiko dat die rok die blomme sal verniel en vernietig.
  • Indien jy nie van jou lang rok wil afsien ter wille van ‘n blombandjie nie, laat jou strooimeisies eerder met die enkelruikertjies pronk.
  • Kies blomme wat sterk van natuur is en dus nie binne enkele minute sal verlep nie. Doen navraag by jou bloemiste oor verskeie blom-opsies wat min water benodig.
  • Vir ‘n meer eksotiese voorkoms, dra gerus ‘n ruikerbandjie om beide enkels – hoekom nie?
  • Die laaste ding wat enige bruid op haar troudag wil hê is ‘n takkie wat heeldag aan haar enkel krap en knaag. Draai dus die blomsteeltjies in materiaal of bloemistelint toe of kies blomme wat nie ‘n irritasie sal skep nie.
  • Skoene mag dalk net jou boheemse feetjie voorkoms kelder, so dra liefs eenvoudige sandale of loop lekker kaalvoet.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category