Kategorie: Artikels, Blomme, Die Bruid, Media, Spys en Drank

Bruilof Brokkies { 21 Augustus 2012 }

Kan jy glo dis al weer daardie tyd van die week? Gisteraand se episode van Bruilof was weereens propvol idees en handige wenke, en ons kon amper nie vinnig genoeg notas maak nie! Hier is ons gunsteling brokkies vir die week:

Hare en grimering: Sebastine Pepler

Vir die bruid:

  • Die haarstyl en grimeerstyl hang nie net van gesigvorm, haarkleur en gelaat af nie, maar ook persoonlikheid en karakter. Laat dus jou hare- en grimeerkunstenaar  toe om jou te leerken voordat julle op ‘n styl besluit.
  • Die hare en grimering proeflopie moenie langer as twee weke voor die troue plaasvind nie om te verseker dat die beplande styl steeds vars in die kunstenaar se kop is.
  • Neem ‘n foto van jou rok en sluier saam na die proeflopie, asook enige haarbykomstighede wat jy op die dag wil dra.
  • Moenie ‘n styl kies wat nie jy is nie. Jou verloofde het immers op jou verlief geraak soos jy is, dus is dit belangrik dat jy nie heeltemal onherkenbaar is wanneer jy by die paadjie afstap nie.
  • Indien jy van plan is om jou hare te laat kleur of punte te knip, maak seker dat jy dit reeds voor die proeflopie doen sodat jou stillis presies kan sien waarmee sy op die groot dag kan werk.
  • Indien die begroting dit toelaat, kry haarverlengings – nie soseer vir lengte as vir volume nie. Krulle hou ook langer in verlengings as natuurlike hare.
  • Dit is baie belangrik om lipstiffie te dra, selfs al dra jy ‘n kleur wat presies dieselfde as jou lipkleur is. So nie, gaan jy vaal en uitgewas op foto’s vertoon.
  • Eet gesond en drink baie water voor die groot dag, en onthou: Naas jou hoof strooimeisie, is vogroom jou beste vriendin!

Vir die bruidegom:

  • Indien jy skoongeskeer wil wees op jou troudag, staan dou voor dag op om te skeer vir ingeval die lemmetjie glip.
  • Laat sny so ‘n week voor die troudag jou hare.
  • Jou hande gaan baie in die kollig wees, dus is dit raadsaam om vir ‘n manikuurbehandeling te gaan.
  • Gebruik hope bevogtiger, selfs al moet jy sommer bietjie uit jou aanstaande se grimeertassie steel.

Vermaak: Five Seasons

  • Kies jou vermaak om by jou tema te pas, byvoorbeeld ‘n strykkwartet vir ‘n romantiese atmosfeer of vuur dansers vir ‘n meer moderne troue.
  • Maak seker dat die kunstenaar hoogs professioneel is, selfs al moet jy ‘n bietjie meer betaal. As hy of sy byvoorbeeld laat is vir jul eerste vergadering is dit dalk wys om die persoon se dienste van die hand te wys.
  • Tradisionele vermaak is uiters gewild onder oorsese toeriste maar word alte gereeld deur plaaslike paartjies oorgesien. Iets soos ‘n marimba orkes kan egter ‘n fantastiese plaaslike geur aan die geleentheid gee.
  • Vermaak is een van die belangrikste aspekte van die groot dag, so begroot maar genoeg daarvoor.
  • Maak seker die venue is geskik vir die tipe vermaak wat jy beplan.
  • Wanneer jy ‘n kunstenaar in die oog het, vra verwysings en kontak ander bruidspaartjies by wie se troue die betrokke kunstenaar opgetree het of woon een van hul vertonings by.
  • Indien dit ‘n musiekkunstenaar is, vind uit of hulle wel liedjieversoeke sal speel.
  • Verseker dat daar ook vir die kunstenaar kos voorberei word om hul energie hoog te hou.

Blomme: Leipzig

  • Wanneer jy jou kleurskema kies, dink logies oor watter blomme in daardie kleur beskikbaar is sodat jy nie later gevang word nie.
  • Kies blomme wat in seisoen is. Nie net is dit ligter op die sak nie, jy kan ook met meer sekerheid weet dat dit organies gekweek is.
  • Rose, lelies, krisante en gerberas is die staatmakers wat heeljaar beskikbaar is.
  • Die tema, kleurskema en blomkeuse hang almal van mekaar af. Kies daarom een element wat jou na aan die hart lê, hetsy dit ‘n kleur of blom is, en bou die res daarom.
  • Die vorm van jou tafel speel ‘n groot rol wat die keuse van ruiker betref: ‘n Ronde tafel vra na een groot fokusstuk, terwyl jy met ‘n lang tafel kan wegkom met kleiner rangskikkings al met die lengte van die tafel af.
  • Indien jy nie ‘n egte blommeruiker kan dra nie, is daar vele alternatiewe soos borsspeldruikers, blomme wat uit knopies gemaak is of selfs gehekelde ruikers.
  • Breek die tradisie en kies ‘n polsruiker vir jou of jou strooimeisies, in plaas van die handtuiker.
  • Die knoopsgatruiker word tradisioneel aan die linker lapel vasgesteek met die blom na bo.

Kos: Food Fanatics

  • ‘n Goeie riglyn is om tussen 25 en 30 persent van die begroting aan spyseniering te allokeer.
  • Vermy geregte wat ryk is aan knoffel, uie, bloukaas en enige ander bestanddele wat ‘n reuk eerder as geur aan die geselsskap kan gee.
  • Probeer die gemiddelde gas se smaak in gedagte hou wanneer jy die spyskaart beplan, maar moet ook nie dat dit jou
  • Kies interessante kosse, nie vreemde kosse nie.
  • Geregte moet nie net ‘n fees vir die smaakkliere wees nie, maar ook vir die oog.
  • Kies geregte wat nie te swaar is en gaste se ogies gaan laat toetrek nie.
  • Wanneer jy op ‘n venue besluit, verseker dat dit nie nodige geriewe het vir die spesifieke disse wat jy in gedagte het. Roomys gaan byvoorbeeld nie lekker werk by ‘n venue in die middel van die Namib nie.

Strandtroues: Die Strandkombuis

  • Vind vroegtydig uit wanneer dit hoogwater is sodat julle nie kniediep in die water gevang word nie.
  • Indien julle nie op ‘n privaatstrand trou nie, is dit raadsaam om ‘n sekuriteitswag of twee aan te stel om nuuskierige agies weg te hou.
  • Tafels en stoele sak weg in los sand, daarom is dit belangrik om ‘n tydelike vloer te laat lê of die onthaal na ‘n gras- of sement-area naby die strand te verskuif.
  • Maak voorsiening vir ouer gaste wat gaan sukkel om met ‘n kierie op die sand oor die weg te kom.
  • Doen vroegtydig navraag by die stadsraad oor enige reels en regulasies wat die gebruik van strand en parkering betref .
  • Dekor-elemente soos kerse en roosblare staan nie ‘n kans teen die ongenaakbare seewind nie. Dink dus prakties oor elke aspek van die onthaal – eenheidskerse is byvoorbeeld ‘n moenie.
  • Vind uit of daar kragopwekkers beskikbaar is – beligting is ‘n moet, en so ook klank (veral wanneer die spreker met die gedreun van die golwe moet kompeteer).

Besoek KykNET se webtuiste vir meer foto’s.



Soortgelyke artikels:

4 Aanmerkings op Bruilof Brokkies { 21 Augustus 2012 }

  1. Christie says:

    Baie awesome!!!

  2. Ronel de Vos says:

    Oulike Raad ♥

  3. Lani says:

    Baie oulik raad! Help baie! Dankie!

  4. Reline says:

    Baie dankie. Ek kan nie Bruilof kyk nie, maar geniet die weeklikse updates.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>