Vrugte vir die Fees { Vars Idees }

Vrugte is een van Moeder Natuur se grootste bederfies – stroopsoet, liplekker en boonop gesond. Maar deesdae is vrugte meer as net hand-tot-mond peuselhappies: Dis ook een van die varsste en billikste dekor tendense van die seisoen! En ons praat nie van die plastiekvrugte op jou tannie se eetkamertafel nie. Hier is ‘n paar kraakvars idees om jou te help om vrugte deel van jou groot dag te maak.

Kies vrugte wat nie sal verlep of sleg raak nie, wat nie morsig is nie (as jy wil hê dat gaste dit moet eet) en wat binne seisoen is, soos byvoorbeeld:

  • Somer/lente – Aarbeie, bloubessies, pynappel, moerbeie, perkes, spanspek, waatlemoen, pere, litchis, druiwe, granate, vye.
  • Winter/herfs – Appels, pere, granate, lemoene, suurlemoene, koejawels.

Glasbakke: Glasbakke of –vase vol vrugte skep moderne en uiters elegante fokusstukke. Kies een soort vrugte of vrugte van dieselfde kleur vir ‘n treffende rangskikking wat by jou kleurskema pas, of kies twee tipes vrugte in komplimenterende kleure om behoorlik die oog te verlei.

Met water: Groot vase vol water en vrugte is vars, eenvoudig en stylvol. Appels, lemoene, bessies en suurlemoene werk uitstekend – jy kan ook die suurlemoene in die helfde deursny om die sappige geur vry te stel.

Blomme: Rangskik vrugte in bakke en versier dit met fyn blommetjies en blaartjies – lemoene met wit madeliefies en boomblaartjies byvoorbeeld lyk alte pragtig en voeg ‘n tikkie lente sprankel by ‘n koue winterstroue.

Plekname: Maak ‘n snytjie in ‘n vrug en laat die naamkaartjie daarin staan, steek gaste se naamkaartjies met ‘n tandestokkie aan vrugte vas of bind die naamkaartjie aan die vrug se stingeltjie vas.

Vrugteboord: Strooi ‘n bed boomblare in die middel van elke tafel en pak vrugte daarop vir pas-uit-die-boord rustieke tafelversierings.

Gastegeskenkies: Potjies ingelegde vrugde, tuisgemaakte vrugtelekkers, vrugterolle, toffieappels of vrugte gedoop in sjokolade (byvoorbeeld appelringe, dadels, aarbeie, ens.) maak liplekker geskenkies. ‘n Ander opsie is om vir elke gas ‘n boksie met aarbeie, room en scones te pak om die volgende oggend met tee te geniet.

Vrugtepons: Versier die kostafels met groot bakke helderkleurig pons (alkoholies of nie) met stukkies vars vrugte in.

Vrugte-buffet: Vir ‘n vars en gesonde bederfie, skep ‘n vrugtebuffet waar gaste kan kies uit ‘n verskeidenhed vars gesnyde vrugte en verskeie geure jogurt, asook vrugte “smoothies” – veral ideaal vir ‘n oggendtroue.

Nagereg: Bedien toffie-appels of versuikerde vrugte of vrugtesosaties met gesmelte sjokolade, crème fraiche en room vir nagereg.

Mandjies: Vir regte “rooikappie-se-mandjie” tafelversierings, pak mandjies propvol sappige ryp vrugte vir gaste om aan te peusel. Jy kan ook vir elke gas ‘n oulike klein mandjie vol vars aarbeie of kersies te gee wat hy of sy dan na die tyd kan huistoe neem.

Troukoek: Versier jou koek met vrugte of rangskik kleurvolle vrugte in ‘n piramide en versier dit met blomme vir ‘n troukoek met ‘n verskil. Dis ook ideaal as julle nie regtig soettande is nie en sal verkies om aan vrugte te peusel in plaas van stroopsoet troukoek.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


  • Jeanne-mari

    Dit lyk so vars en lekker. Is n goeie opsie vir die somer dink ek.

  • Annie

    Dit is absoluut pragtig!

  • Laura-Ann

    Dis ‘n uitstekende idee! Jy kan dit selfs so neer sit, dat die gaste die “dekor” kan eet!

  • Lizelle

    Kan goedkoper uitwerk as blomme

  • Cindy

    Kan nogal oulik gedoen word

  • Jannie

    Dis te pragtig. Kyk daai Cherries!

  • Ronel de Vos

    Baie kreatief ♥

  • Reline

    Pragtig en heerlik. Baie nice idee.

  • Elaine

    mal oor dit

Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category