Kategorie: Dekor Idees, Spys en Drank, Temas

Uit die Plaaskombuis { Warm + Ouderwets }

Daar is min plekke so warm, huislik en gesellig soos ‘n plaaskombuis – en is dit nie juis die atmosfeer wat ‘n mens maar net oor kan droom vir jou troudag nie? Die plaaskombuis tema bring die skouspelagtige troue terug na daar waar die hart is: Uit en tuis en by die huis.

Vir hierdie tema, dink “Ouma se kombuis” – fyn teekoppies en antieke bordjies, koekrollers en swaar hout broodplanke, mandjies vrugte en plaaseiers, en natuurlik die oudmodiese kombuiskassies waarvan skaniere geroes is en die vorige verflae plek-plek deurloer.

Span ou enamel, oftewel blikware in as blompotte en plantbakke vir die tafelrangskikkings, byvoorbeeld vetplantjies in ‘n waskom, vars vrugte in geroeste vergietes en affodille in ‘n waterbeker. Melkkanne maak self ook die allerpragtigste blompotte.

Snuffel rond in tweedehandse winkels vir daardie tipiese ouderwetse beskuit-, koek- en pap-blikke en gebruik dit as vase op die tafels of die lekkergoedtafel.

Vir die tafelplan, span ogies draad oor ‘n ou vensterraam en knyp gaste se naamkaartjies met houtpennetjies daaraan vas, of gebruik ‘n ou koekblik om elke tafel voor te stel en plaas vir elke gas ‘n geskenkie in die relevante blik met sy naam op.

Reël met die spysenier dat hulle vroegmiddag reeds in die onthaalsaal se kombuis begin brood bak. So word jou gaste dan met die warm geur van varsgebakte plaasbrood gegroet wanneer hulle by die onthaalvenue arriveer.

Bedien die warm varsgebakte brood met verskeie tuisgemaakte konfyte, kase en plaasbotter as voorgereg, of saam met dik boontjiesop in die winter. Boonop kan jy vir elke gas ‘n klein plaasbroodjie met ‘n potjie tuisgemaakte konfyt soos net Ouma kan, as gastegeskenkie saam huistoe gee.

Die spyskaart moet oor die algemeen eenvoudige en vullende geregte bevat so reg uit die houtstofie. Dink herderspastei, gebraaide aartappels, pampoenkoekies, skaapboud, bobotie, groente en moet natuurlik nie van die varsgebakte melktert en smullekker hertzoggies vergeet nie. As jy regtig “plaas” wil gaan, bedien dit op blikborde en -bekers.
In die wintertyd, kyk of jy ‘n paar outydse olie of gasverwarmers in die hande kan kry, of selfs ‘n houtstofie waarby gaste hul hande kan warm maak. Gee ook vir elke gas ‘n lekker dik paar gebreide handskoene as geskenkie.

Gebruik hope fyn gebleikte kant en borduurwerk vir die tafeldoeke, rangskikkings en servette en stal die snuisterye en outydse teestel wat jy by jou oumagrootjie geërf het uit om die venue mee te versier. As jy egter jou hande op swaar en ruwe onafgewerkte hout tafels kan kry, soveel te beter! Die sagte patrone en teksture sal pragtig daarmee kontrasteer.

Onthou jy daardie groot potte ingelegde appelkose, pere, komkommertjies en uitjies wat altyd so in sulke rye bo op Ouma se kombuiskaste gepronk het? Wel, doen dieselfde en gebruik potte ingelegde ietsies as deel van jou tafelversiering. As ‘n bonus kan gaste dit ook na die onthaal huistoe neem as gastegeskenkie.

En laastens: Verruil die hemelhoë hakke vir plat bruin leer skoentjies en sê vir manlief hy kan maar die das afhaal en die boonste knoop losmaak – ons kuier immers hier in die kombuis, waar alles trankiel, feestelik en ontspanne is.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest



Soortgelyke artikels:

6 Aanmerkings op Uit die Plaaskombuis { Warm + Ouderwets }

  1. Ronel de Vos says:

    Pragtige idees ♥

  2. Lani says:

    te oulik!

  3. Reline says:

    Baie oulik en dit lyk heerlik.

  4. Jennifer says:

    Uniek!

  5. Tanya Saayman says:

    Dit is stunnig!

  6. Rita van Zyl says:

    die tema doen dit nou nogal vir my shoe

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>