‘n Wollerige Affêre { Wonderlike Wol Idees }

wol-tema

Daar is min dinge so snoesig soos warm, wonderlike wol – die Engelse sing immers nie verniet van “warm woollen mittens” wanneer hulle hul “Favourite Things” lys nie! Terwyl wol nie juis een van daardie elemente is wat mens uit die staanspoor met troues sal verbind nie, is daar eintlik soveel maniere waarop jy dit op sprokiesagtige wyse kan herskep en toepas – en die feit dat dit so onverwags is, maak dit net soveel meer koddig en oulik!

Hier is ‘n paar maniere wat jy kan saamvleg:

  • Gebruik lang stukke wol en tou om allerhande oulike versierinkies en blomme uit die dak en boomtakke te hang.
  • Gebreide blommetjie-borsspelde maak die ideale gastegeskenkies vir die dames, terwyl die manner weer nie ‘n paar warm handskoene of ‘n gebreide mussie van die hand sal wys nie.
  • Klein detailtjies soos gebreide lint of ‘n stukkie borduurwerk is die ideale manier om jou skryfbehoeftes af te rond en by die algehele tema te laat inpas.
  • Skep interessante patrone of monogramme deur spykers in hout in te slaan en dan die wol daarom te draai. Hang die ongewone fokusstukke teen die muur of gebruik dit as agtergrond in die fotohoekie.
  • Voeg ‘n tikkie warmte by jou bruids-ensemble met ‘n oulike truitjie en kikker manlief se uitrusting met ‘n warm wol serp op.
  • Maak jou eie wol “pompoms” waarmee jy alles van die blommerangskikkings tot die stoele kan versier, en gebruik afval stukkies wol as konfetti.
  • Baai die tafels in wollerige warmte met gebreide servetringe, plekmatjies, tafellopers en stoelkussinkies.
  • In plaas van die tradisionele materiaal plafondekor, drappeer lang wol vlegsels tussen die dakbalke of brei jou eie tuisgemaakte “bunting”.

wol-dekor-idees

Alle foto’s en hul bronne is op ons Pinterest beskikbaar.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category