‘n Kruiwa vol Kreatiwiteit { Rustieke Dekor }

kruiwa -trou-idees

Jy hoef nie ‘n bouer of ‘n tuinier te wees om die meeste van ‘n kruiwa te maak nie! Díe karaktervolle stootwaentjie se bak is propvol potensiaal, met oorgenoeg plek vir al jou oulike idees.

Hier is ‘n paar om die kruiwa aan die rol te sit:

  • Gebruik ‘n kruiwa as yshouer, en vul dit met ‘n verskeidenheid biere, vrugtesappe en koeldranke – jy kan selfs sover gaan as om die kroegman te vra om die kruiwa rond te stoot!
  • ‘n Ander alternatief is om die kruiwa vir versnaperings te gebruik en dit vol pakkies soetgoed te pak, soos byvoorbeeld spookasem en springmielies.
  • Verander die kruiwa in ‘n treffende blommerangskikking, met varsgeplukte bloeiseltjies en takke wat oor die rand spoel.
  • Neem die kruiwa saam na die fotosessie en gebruik dit as ‘n rekwisiet – byvoorbeeld, laat manlief jou daarin by die grondpad afstoot of klim saam-saam in die bak. ‘n Ander prettige opsie is waar elk van die strooijonkers ‘n strooimeisie by die paadjie afstoot.
  • Verander die waentjie in ‘n ongewone tafelplan! Vul eenvoudig die bak met sand en klippies, en plant naamkaartjies-op-stokkies in die kruiwa.
  • ‘n Kruiwa is die ideale bêreplek vir gastegeskenkies – veral iets soos klein plantjies of pakkies saad, aangesien dit so mooi by die tema pas.
  • Indien jy ‘n buitelugtroue beplan, gebruik die kruiwa om gaste van kombersies, waaiertjies en sambrele te verskaf.
  • Laastens, plaas ‘n kruiwa buite die seremonievenue en stal die kerkprogramme daarin uit of pak dit vol konfetti.

Alle foto’s en hul bronne is op ons Pinterest beskikbaar.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category