Karaktervolle Kerfplanke { Kostafel Idee }

kerfplanke-trou-dekor

Kom ons wees eerlik – feitlik enige happie en versnapering is nou maar eenmaal net soveel smaakliker as dit op ‘n handgemaakte kerfbord bedien word. Hetsy dit nou ‘n versameling van jou gunsteling kase is om saam met ‘n wyntjie te geniet of ‘n charcuterie van delikaat-gegeurde vleise – enige sjef sal jou gou vertel dat ‘n kerfbord eenvoudig ‘n móét is.

Kerfborde en broodplanke het ‘n amper rou en rustieke karakter omtrent dit wat vanselfsprekend help om ‘n natuurlike en organiese ambians skep. Deesdae kan jy kerfborde volgens jou unieke en individuele instruksies laatmaak en selfs ‘n tikkie persoonlikheid byvoeg in die vorm van laser gesnyde ontwerpe, monogramme, bewoording en troudatums wat daarop gegraffeer word.

Kom ons loer na ‘n paar maniere waarop díe handige houtblokkie opslae by jou troudag kan maak:

  • In plaas van tradisionele opdienborde, bedien ‘n verskeidenheid peusel-grootte happies op individuele hout kerfborde vir beide voorgereg en hoofgereg.
  • Gebruik kerfborde as plekmatjies. Jy kan dit selfs ‘n trappie verder neem deur elke gas se naam op die kerfbord te laat druk sodat dit as beide pleknaamkaartjie en gastegeskenk kan dien.
  • Vervang die kelners se skinkborde met hout kerfborde wat hoog met kase, varsgebakte broode en ingelegte lekkernye gestapel is.
  • Indien julle albei “foodies” is, span ‘n kerfbord as gasteboek in en laat dan jul gaste hul briefies daarop skryf en uitkerf – die perfekte toevoeging tot jul nuwe nessie.
  • Komplementeer die rustieke kerfplanke deur ander aardse elemente by die dekor in te werk – byvoorbeeld, terracotta, rou katoen, goiing en kant.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category