2014 Voorspellings Deel 2: Dekor

2014-dekor-01

“Romanse” en “uitspattigheid” is die twee hoof sleutelwoorde vir 2014, en dit blyk asof dit in elke aspek van die troudag gaan deurskemer – van die trourok en kleurskema tot die venuestyl en dekor. Hier is net ‘n paar van die groot neigings wat jy die jaar op die dekor en venue front te siene gaan kry:

Vintage Glans: Vergeet van rustiek-sjiek elegansie, want díe jaar verskuif die fokus na vintage weelde. In plaas van die saamgeflansde ditjies-en-datjies vintage temas wat so gewild was in 2013, gaan 2014 meer om romantiese en klassieke Downtown Abbey styl vintage draai, asook die meer kontemporêre “art deco” vintage.

Minder is nie Meer nie: Soos ons genoem het is uitspattigheid die jaar aan die hand van die dag, en daarom gaan daar ‘n groot beweging van elegante minimalisme na weelderige sofistikasie wees. Die geheim lê hoofsaaklik in die fynere detailtjies, so wees op die uitkyk vir elemente soos goue messegoed, lang tafellopers in luukse materiale, fyn breekware, delikate serviette, kelners in wit handskoene en so aan.

Waterval Blomme: Vergeet vereers van laas jaar se gewilde “baby’s breath” – 2014 is die jaar van orgidieë, peonies, tulpe en ander romantiese (en skynmaar duurder) blomme. Waterval blommerangskikkings gaan oral te sien wees, met die fokus op romantiese teksture en lang hangende blare. Ons verwag ook dat vars blom “tafellopers” ‘n groot neiging gaan word, met bloeisels wat oor die kante van die tafels spoel.

Romantiese Skryfbehoeftes: Hierby bedoel ons fyn kant-geïnspireerde laser-ontwerpe asook goue aksente en grafeerwerk. Roosgoud en koper is die twee hoof metaalkleure waarvoor ons op die uitkykk gaan wees, en klassieke motiewe soos traliewerk, treffende strepe en blompatrone gaan weer hoog mode wees.

Sosiale Troues: Met die groei van sosiale netwerke en die wêreld se afhanklikheid van die internet, gaan 2014 die jaar van sosiale troues wees. Persoonlike “hashtags” gaan ‘n groot rol speel – hetsy op Instagram, Twitter of Facebook – terwyl video-hoekies die tradisionele fotohoekie gaan vervang en “live streaming” meer as ooit benut gaan word.

Glinsterende Kersies: Volgens modekenners gaan kerse die gewilde feeliggies tot ‘n mate vervang. Die idee is om met verskillende groottes, vorme en kleure rond te speel – van treffende votief-kersies en dramatiese pilare tot lang slanke kerse en weelderige kandelare – en dit op interessante maniere te kombineer. Moet boonop nie verras wees wanneer kerse die nuwe gunsteling troukoek-versiering word nie!

Betowerende Beligting: Oor die afgelope jaar of twee het beligting een van die belangrikste aspekte op die troudag dekor-lysie geword. Met tegnologie wat egter by die dag meer gevorderd raak, is die moontlikhede meer eindeloos as ooit tevore – dink LED en optiese vesel dansvloere; persoonlike ontwerpe wat op die dansvloer en muur geprojekteer word; virtuele graffiti mure; om maar net ‘n paar te noem.

Gastegeskenkies: Eetbare geskenkies is soos altyd heelbo aan die lysie, maar die jaar verwag ons klein, deftige en amper koninklike happies soos makrolletjies, truffels en petit fours. Aan die ander kant word daar gesê dat liefdadigheids-donasies die gewildste geskenkie van die seisoen gaan wees, asook boompies en plantjies wat gaste self kan plant.

2014-dekor-02

2014-dekor-03

2014-dekor-04

2014-dekor-05

2014-dekor-06

2014-dekor-07

2014-dekor-08

Foto Krediet: www.bridalguide.com


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category