Verlief op die Vetplantjie { Inspirasie + Idees }

Die vetplant is die nuwe roos, lelie, angelier – eintlik die nuwe troublom. Met kontemporêre en rustieke temas wat nou hoog op die modelysie sit, is dit geen verrassing dat hierdie rustieke plantjie ook voorkeur geniet onder bruide nie. Wat hulle boonop ideaal maak is dat hulle beswaarlik sal verlep namate die dag verloop, selfs al haak julle die knoop in die middel van die Kalahari deur.

Vetplantjies is egter nie net gewild onder bruide nie, en jou gaste sal wat gee om elkeen met enetjie huistoe te gaan aan die einde van die aand. Boonop is dit maklik om sommer self jou eie steggies te kweek, wat jou ‘n hele paar rand in die proses kan bespaar. Koop ‘n paar plantjies by die kwekery as jou moederplante, en probeer hierdie paar basiese wenke om jou plantjies aan die groei te kry:

  • Breek ‘n takkie, blaartjie of puntjie van die plant af en plaas dit in water of klam grond. Die kanse is goed dat hy sal wortel skiet.
  • Ronde plat vetplante is geneig om al om die moederplant babatjies te maak wat jy eenvoudig uit die grond kan trek en oorplant.
  • Lenige kaktusplante groei gewoonlik “armpies” wat eintlik elkeen ‘n plantjie op sy eie is. Breek dit eenvoudig af en druk dit in sagte klam grond sodat hy kan wortel skiet.
  • Indien hy nie armpies kry nie, breek eenvoudig die kop af – so twee na drie sentimeter van bo.

‘n Baie oulike idee wat onlangs posgevat het is om sommer jou vetplant geskenkies ook jou tafelversiering te maak, deur almal bymekaar in die middel van die tafel te plaas, hetsy in ‘n lang ry of op ‘n koekstaander. Indien jy dit by elke gas se sitplek wil plaas, heg ‘n naamkaartjie aan die plantjie sodat dit sommer ook as plekaanwysing dien.

Span ‘n groot kaktus as jou gasteboek, oftewel gasteboom in, en moedig jou gaste aan om briefies aan die lang dorings vas te steek. Alternatiewelik kan jy gaste vra om ‘n vetplantjie as deel van hul trougeskenk aan julle te gee. Indien julle nuwe nessie naby aan die venue geleë is kan elke gas dan hul plantjie in julle rotstuin gaan plant as ‘n simbool van hulle liefde en ondersteuning.

Vetplante soos woestynrosies neig amper na ‘n blom en maak daarom die oulikste knoopsgatruikertjies, bruidsruiker en selfs haartooisel. Wanneer jy dit egter as tafelversiering inspan, speel rond met die klippies en sand waarin jy dit plant – kies byvoorbeeld wit klippies vir ‘n skoon modieuse effek, swart klippies vir ‘n zen tema of seesand vir ‘n rustieke woestyntroue.

Alle foto’s en hul bronne is beskikbaar op Pinterest


  • Léan

    Vreeslik mooi! Presies die idees wat ek wil gebruik!

  • Rita

    The plate layout is so nice

  • estelle dutoit

    dit is die mooiste mooi, vetplantjies gee jou soveel spasie en ruimte

  • http://Vetplante Marie

    Dit is baie mooi. Ek is nou besig om na n vetplant tuin oor te skakel.
    Hier in Klerksdorp waar dit so vreeslik droog is, is vetplante net die regte plant om te plant.
    Al is dit droog is hulle so mooi.
    Dankie vir die wenke.
    Marie

  • Hantie

    Ek is mal oor die idee van die vetplantjies by ‘n onthaal.

Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category