Groenvingers { Idees met Varings }

varing

Varings was maar nog altyd niks meer as ‘n nederige vaas-vuller nie, maar met “groen”, “natuurlik”, “rustiek” en “organies” wat die woorde van die dag is, is dit geen verrassing dat varings tans hoog op ons hartjie-lys is nie. Bloemiste gebruik deesdae díe besonderse blaar-plant op die allermooiste en kreatiefste maniere, so moet dus nie verras wees as jy al meer bruide met varing-ruikers by die paadjie sien afstap, sonder ‘n blom in sig nie.

Deel van die varing se aantrekkingskrag lê in die lang lenige vorm van die blaar wat dit ideaal maak vir weef en vleg – ‘n varingblaar om die gewrig of in die hare is maar net twee voorbeelde van maniere waarop jy dit kan benuttig. Verder is varings ook ideaal vir waterval ruikers en kan om enige hout- of draadvorme gedraai word om sprokiesagtige groen dekor-elemente te skep.

Ander immergroen idees sluit in:

  • Gebruik genommerde varing-potplante as tafelplan en skryf elke gas se naam op ‘n plantjie-stokkie wat dan in die toepaslike pot geplant kan word. ‘n Ander alternatief is om vir elke gas ‘n mini varing-potplantjie as gastegeskenkie te gee.
  • Hangende varings voeg ‘n woudagtige misterie tot die geleentheid en kan op verskillende hoogtes oor die tafels gehang word – mooi netjies uit jou gaste se pad.
  • Ons is mal oor dekor-stukke wat na afloop van die troue in die nuwe nessie gebruik kan word! So in plaas daarvan om op die begroting met uitspattige blommerangskikkings te knak, gebruik potplante om die tafels en venue te versier.
  • Bederf manlief met ‘n “liefdesvaring” of plant saam-saam ‘n varing vir die huis as simbool van julle samekoms.
  • Vir ‘n eenvoudig dog treffende en organiese tafelversiering, gebruik varingblare as tafelloper en plaas kerse tussen die bed van groenigheid.
  • Gebruik versnipperde varingblare as konfetti en steek ‘n varingblaar aan elke strooijonker se lapel vas om die tema deur te trek.
  • Werk die varingmotief by skryfbehoefte-ontwerpe in of belê in ‘n varingstempel om servette en uitnodigings mee te versier.

Alle foto’s en hul bronne is op ons Pinterest beskikbaar.


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category