Vra die Regte Vrae { Die Spysenier }

Spys en drank is seker een van die heel belangrikste elemente wat ‘n onthaal kan maak of breek, en iets waaroor gaste altyd na die tyd ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi het. Omdat die spyseniering boonop een van die duurste elemente van jou troudag is, is daar nie ruimte vir afskeep nie en is dit uiters belangrik om te verseker dat jou gekose spysenier sy storie ken. Voor jy finaal iets teken of ‘n mondelingse ooreenkoms aangaan, maak seker dat jy hierdie vragies vra. En moenie skaam wees nie – as selfs een hiervan sy nekhare laat rys, dan moet jy weet: hou maar verby!

  1. “Is die moontlik vir my en my verloofde om vooraf die beplande disse op die proef te stel?” Op die manier kan jy verseker dat die uitspattige voorgereg wat op die spyskaart beskryf word nie net koue spanasie op roosterbrood is nie.
  2. “Kan ons ons eie drinkgoed verskaf?” Alkohol is een van die areas waar spyseniers groot geld maak en heel moontlik sal hulle nie toelaat om jou eie drinkgoed aan te koop nie. As die spysenier egter instem, moet jy die geleentheid met albei hande aangryp om so ‘n paar rand te spaar.
  3. “Kan jy vir my kontakbesonderhede gee van vorige paartjies by wie se troues jy die spyseniering hanteer het?”
  4. “Wat is alles ingesluit in jou totale fooi?” Party spyseniers se koste sluit ook die gebruik van kelners en kombuispersoneel in. Tog is dit soms ook in die venue-prys ingesluit en kan jy dalk vind dat jy op die ou-end dubbel betaal.
  5. Indien die spysenier wel die keleners verskaf, vra ook: “Verskaf jou kelners Silver Service of het hulle slegs ervaring met informele troues?” Altwee is in die haak, afhangende van watter tipe troue jy beplan. Jy moet dus net seker maak dat jy tevrede is met die diens.
  6. “Hoeveel kelners sal ek benodig vir die hoeveel gaste wat die onthaal gaan bywoon?”
  7. “Sluit jou finale kwotasie BTW in?”
  8. “Wat is jou kanselasie-beleid?” Maak seker dat jy dit 100% verstaan en gelukkig is met al die terme en voorwaardes.
  9. “Wat gebeur as een van my gaste op die nippertjie kanseleer? Hoe lank voor die tyd kan ek nog my gastetal verander sonder om daarvoor beboet te word?”
  10. “Doen jy spyseniering vir vegetariërs, vegans en mense met allergië en spesiale dieetvoorkeure?” Dit is uiters belangrik dat gaste met spesiale dieetvoorkeure tegemoed gekom word. Vind vooraf uit wie hierdie gaste is en wat presies hulle voorkeure is, en stel dan die spysenier daarvan in kennis.
  11. “Bied julle spesiale spyskaarte vir kinders?” Dit is natuurlik net van toepassing indien jy wel kinders by die troue gaan toelaat. Kinders bo 10-jarige ouderdom is gewoonlik tevrede daarmee om die grootmenskos te eet.
  12. “Sluit jou finale fooi eetgerei en breekware in?” Indien nie sal jy dit by huur. Vind ook uit of dit nie moontlik in jou venue-prys ingesluit is nie, en dat jy nie beide venue en spysenier daarvoor betaal nie.
  13. Indien die spysenier wel die breekware verskaf, vra ook: “Wat is jou beleid omtrent gebreekte items? Moet ek daarvoor betaal?”
  14. “Maak jy gebruik van organiese bestanddele?”
  15. “Is jou bestanddele altyd vars? Waar koop jy dit aan?”
  16. “Het ons trouvenue al die nodige kombuisgeriewe en toerusting wat jy benodig om ons gekose spyskaart aanmekaar te slaan?”
  17. “Doen jy die spyseniering vir nog ‘n troue op dieselfde dag as myne? Indien wel, hoe beplan jy om die twee te balanseer?”
  18. “Moet ons vir die kelners fooitjies gee of word dit in die totale spysenieringsrekening ingesluit?”
  19. “Moet ek ‘n deposito betaal? Indien wel, hoeveel?” Vra ook sommer in dieselfde asem of die spysenier afslag bied indien jy die hele gedrag op daardie stadium betaal.
  20. “Wanneer moet ek die oorblywende bedrag vir die spyseniering aan jou oorbetaal?”

Foto: Cabrieres (Montagu Venue)


  • Elaine

    baie goeie wenke

Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category