Kategorie: Artikels

Trouklokkies en Dou { Oggendtroue Idees }

Oggendtroues raak al hoe meer populêr en is ‘n maklike manier om ‘n klein begroting tot sy uiterste te rek. Jy mag dalk ‘n klein bietjie vroër moet opstaan om jou op te dollie vir die groot dag, maar as jy dink aan die oggendson wat heerlik speel deur die vensters en die voëltjies wat sing in die bome, is dit skielik nie so erg om die alarm bietjie vroeër te stel nie.

Hier is ‘n bietjie oggend-inspirasie om jou kop in rat te kry:

Venue

Anders as met ‘n aand- of laatmiddagtroue, gee ‘n oggendtroue jou die opsie om dit geheel en al in die buitelug te hou, wat ook sommer goedkoper uitwerk as ‘n tradisionele venue. Vind uit by die munisipaliteit of jy jou onthaal in die botaniese tuin kan hou of reël dat julle die knoop op die strand deurhaak. As jy ‘n vriend of familielid ken met ‘n besonderse tuin, vra baie mooi of julle kan makietie in die agterplaas. Ander buitelug opsies sluit in ‘n groot ou plaasstoep, ‘n balkon, langs ‘n rivier/dam, die immergewilde markiestent en ‘n kampeer/piekniek terrein.

Oggendstyle

‘n Oggendtroue is normaalweg lig en feestelik van aard. Of julle nou in die huwelik tree soos die son oor die berge rys, of verkies dat die feestelikhede oorrol in ‘n ligte middagete hang totaal en al van julle begroting en persoonlikhede af. Meeste oggend/middagtroues neem normaalweg een van hierdie ‘vorms’ aan:

  • ‘n “Brunch”
  • Piekniek
  • “High tea”
  • Trots Suid-Afrikaanse braai (bv. ‘n spitbraai)
  • Buitelug-/strandtroue
  • Ontbyt

Dekor

As jy jou troue in die buitelug hou, is helfde van jou dekor reeds in plek danksy Moeder Natuur. Jy kan egter ‘n trappie verder gaan en die bome versier met stukke sjiffon, Chinese lanterns, linte, lanterntjies en stringe spieëltjies en glaskrale wat die son pragtig vang. Kies fyn en ligte blommetjies soos baby’s breath, peonies, madeliefies en sweet peas en strooi ook blomblare op die vloer of grasperk.

Hou die dekor lig en vrolik en kies ligte kleurskemas soos:

Met die son wat speel deur die vensters en dans daar buite op die grasperk, hoef jy nie bekommerd te wees oor beligting nie – dis egter belangrik om te verseker dat daar genoeg skadukolle is waar gaste kan skuiling vind. As jy lief is vir kerse, kan jy altyd gegeurde kersie of twee brand om jou gaste se reuksintuie te verlei.

Groot bakke of vaatjies vol vars vrugte maak nie net buitengewone en vars rangskikkings nie, maar is ook heerlik vir gaste om aan te peusel. Verder kan jy jou eie blompotjies uit blikkies en botteltjies maak en papierlanterntjies uit die dak of bome hang.

Gaste Geskenkies

Glaspotjies met luukse muesli, tuisgebakte broodjies, beskuit, tuisgemaakte konfyt, sonskerm, sambreeltjies en waaiertjies is oulike idees vir gaste geskenkies.

Alternatiewe Tafels

  • In plaas van tafels, laat jou gaste uitspan op piekniekkomberse en versier elkeen met hope helderkleurige kussings en voetstoeltjies. Anker die komberse met rivierklippe, potplante of emmers water met eendjies, blomblare, kersies of papierbootjies wat bo-op dryf (dit dien dan sommer as tafelrangskikking).
  • Bonkige piekniektafels en bankies is altyd ‘n wenner en ideaal vir gaste wat nie so laag wil sit nie.
  • Bring die binnekant buitentoe – dra al wat ‘n rusbank is uit vir gaste om op te ontspan.
  • Gazebos is die ideale manier om skadu-kolletjies te skep in ‘n area met min bome. Trek die gazebo met ‘n muskietnet oor vir ‘n romantiese ambians wat ook sommer die lastige insekkies wegkeer. Rig elke gazebo as ‘n “gastetafel” in – gebruik alles van bean bags en gemakstoele tot matrasse, strandballe en koffietafels om klein sitkamertjies te skep.

Spyseniering

Afhangende van die styl troue wat jy kies, is daar ‘n allerheerlike verskeidenheid kosse wat nommerpas is vir ‘n oggendtroue:

  • Ontbyt: Beskuit, gevulde pannekoek, plaasbrood en botter, spek, eiers, gebraaide worsies, sampioene, muffins, muesli en jogurt, vars vrugteslaai, lemoensap, plaatkoekies met gouestroop en aarbeie.
  • Verras gaste met ‘n omelet-tafel met ‘n wye keuse vulsels en garnering waar hulle hul eie omelette aanmekaar kan slaan.
  • Brunch: Muffins, jogurt, croissants, vrugte, tertjies, verskeidenheid teesoorte, koffiestasie, toebroodjies, verskeidenheid kase,  vrugtekelkies, sjokolade-fontein, “wraps”, koue pastaslaaie.

  • “High Tea”: Vingerhappies, dekadente tertjies, pasteitjies, toebroodjies, room-“scones” en natuurlik ‘n wye verskeidenheid teesoorte.
  • Piekniekkos: Broodrolletjies, kase, vars vrugte en slaai, sappies, beskuitjies, hoendervlerkies, slaaie, waatlemoen, springmielies, mini hamburgers en worsrolletjies, klein pasteitjies.
  • Braai (vroeë middagete): Braaivleis, skaap op die spit, roosterkoeke, slaaie, seekos, potbrood, malvapoeding, sosaties, potjiekos.
  • In plaas van ‘n swaar vrugtekoek as troukoek, oorweeg ligter opsies soos wortelkoek, kolwyntjies of lae klein tertjies en pasteitjies.

Drinkgoed

Omdat die “boeiing” nog nie oor is nie, kan jy baie geld bespaar op alkohol. Al wat jy nodig het is sjampagne vir die heildronke, en selfs dit kan jy met lemoensap meng vir ‘n meer oggendvriendelike drankie.

Hier is ook ‘n resep of twee vir vroegoggend mengeldrankies:

  • Skroewedraaier: Meng 2 dele vodka met 5 dele lemoensap en bedien met ‘n lemoenskyfie.
  • Morning glory: Meng 1 sopie lemoenlikeur, 1 sopie kersiebrandewyn en ‘n leksel pynappelsap in ‘n glas. Vul dan die glas verder met sjampagne en versier met ‘n aarbei vir ‘n bietjie kleur.
  • Bloody Mary: Plaas 2 ysblokkies in ‘n glas en voeg ‘n dubbel sopie vodka by. Voeg die sap van ‘n halwe suurlemoen by, asook 6 skote Worcestersous, 3 skote Tobasco-sous en 150ml tamatiesap. Meng goed en geur met sout en peper. Versier met ‘n selderystokkie.
  • Sit ook n verskeidenheid teesoorte en vrugtesappe voor en oorweeg dit om ‘n koffiewaentjie of ‘smoothie’-kroeg te kry om jou gaste die nodige energie te gee vir die dag se feestelikhede. Groot bakke vrugtepons skep ook sommer n tipiese ‘high tea’ ambians en ystee is die ideale afkoelmiddeltjie vir ‘n warm somersoggend.

Vermaak

‘n Buitelugtroue is reeds speels en lighartig dus kan jou vermaak hierby aanpas – die idees is eindeloos: Boeresport, kroket op die grasperk, skattejagte, volleyball, putt-putt, Frisbee-gooi en miniatuur dieretuintjie, om net ‘n paar te noem.

Indien jou onthaal binne ‘n saal of op ‘n patio plaasvind, mag die opsies ietwat meer beperk wees. Tog is daar niks so lekker soos vintage bordspeletjies, skaak, dans en net lekker kuier met ‘n beker koffie nie. Loer ook sommer hier vir idees om die kinders besig te hou.

Tensy jy wil hê dat jou gaste moet dans, hou die musiek lig en vrolik. Skep die regte atmosfeer met ligte klassieke musiek in die agtergrond of kry ‘n strykkwartet of harpspeler om ‘n romantiese ambians te skep.

Later die dag

Jou gaste het van ver gekom en die kanse is baie goed dat hulle heel moontlik tot die volgende dag sal bly. Dis egter nie jou taak om hulle na die troue besig te hou nie – veral nie as jy op n klein begroting werk nie. Tog kan jy jou gaste in die regte rigting stuur deur vir hulle raad en ‘n paar opsies te gee – jy ken immers die omgewing beter as hulle. Hier’s ‘n paar moontlikhede:

  • Hou ‘n spitbraai/bring-en-braai vir middagete by ‘n vriend of familielid se huis.
  • Reël vir hulle ‘n toer van die dorp en omgewing.
  • In die somer kan gaste gaan kuier en swem by die dam/rivier/dorpsswembaddens.
  • Reël motors vir die aand sodat jou gaste die dorp kan gaan rooi verf.
  • Reël ‘n lekker opskop by iemand se huis vir die aand.
  • Stel vir elke gas ‘n boekie saam van die aantreklikhede wat te vinde is op die dorp en omliggende omgewing.
  • Reël ‘n lekker lawwe skattejag op die dorp.
  • Stuur jou gaste op ‘n wyntoer.


Soortgelyke artikels:

6 Aanmerkings op Trouklokkies en Dou { Oggendtroue Idees }

  1. bernice says:

    oulik

  2. Rulina says:

    ‘n Paartjie wat ek ken het ‘n oggend troue gehad vir al die gaste en toe die aand ‘n lekker dans-partytjie/kuier met al hulle vriende/jongmense. Dit het vir hulle baie goedkoper uitgewerk en hulle kon die hele dag saam met almal kuier, anders as met ‘n aand troue.

  3. Pingback: Idees vir Lente Troues | Trou Inspirasie

  4. Pingback: Bruilof / 4 September 2012 | Trou Inspirasie

  5. Pingback: Lemmetjiegroen en Geel { Vars Inspirasie } | Trou Inspirasie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>