Ons Troue – Afgestel { Bewoording & Advies }

ons-troue-afgestel

Om ‘n troue te kanselleer is ‘n hartseer en pynlike storie, maar soos die bekende gesegde sê: “Eerder ‘n verbreekte verlowing vandag as a ‘n gebroke hart en huis môre.” Eerstens is dit belangrik om te besef dat, ongeag die redes, ‘n afgestelde troue geensins iets is om oor skaam te wees nie.

Hou jou kop omhoog en versprei die woord so gou as moontlik. Tweedens moet jy glad nie verplig voel om enige redes aan te voer nie – al wat jou gaste hoef te weet is dat die troue afgestel is. Punt.

Jou familie en vriende behoort jou genoeg te respekteer om dit so te aanvaar en julle eerder te ondersteun as onnodige vrae te vra. Die beste manier om jou gaste in kennis te stel is deurmiddel van ‘n kort en kragtige nota of epos van niks meer as twee of drie reëltjies nie – byvoorbeeld:

Helena Vermaak en Bertus Blom wil u hiermee in kennis stel dat die troue van 20 Maart 2020 afgestel is. Vir enige navrae, kontak asseblief vir Bertus by 006 050 3322. OF As gevolg van onvoorsiene omstandighede, moes ons ons troue van 20 Maart 2020 kanselleer. Vir verdere navrae, kontak asseblief vir Anna van Rooyen (hoof strooimeisie) by 006 596 8645. OF Hiermee stel ons in u in kennis dat die troue van Helena Vermaak en Bertus Blom gekanselleer is. Ons vra omverskoning vir enige ongerief. Verdere instruksies en reëlings sal op ‘n latere stadium aan u deurgegee word.

Indien dit minder as ‘n maand voor die troue is en gaste reeds vervoer- en verblyfreëlings getref het, is dit beter om hulle telefonies in kennis te stel eerder as per epos. Indien jy nie onnodige en onsensitiewe vrae wil beantwoord nie, kan jy jou strooimeisies en strooijonkers vra om die taak op hul skouers te neem. Wat diensverskaffers betref, lees sorgvuldig deur al jou kontrakte en vind uit watter depositos jy kan terugeis en watter jy gaan verbeur.

Selfs al sê die kontrak ook wat, mag sommige diensverskaffers dalk ‘n uitsondering maak indien die troue as gevolg van sensitiewe kwessies gekanselleer is. Intussen, skakel jou selfoon af, gederf jouself en laat die strooimeisies die res hanteer – hulle is immers daar om jou deur dik en dun by te staan!


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category