Kleredrag Wenke vir Gaste

kleredrag-wenke-vir-gaste

Om die middelpunt van die aandag te wees is meeste mens se begeerte, en juis daarom is dit nie altyd maklik om ‘n gas by ‘n troue te wees nie. Al is jy ook hoe gelukkig vir jou vriend en vriendin, wil jy steeds op jou beste lyk.

So hier is ‘n paar wenke om die asems weg te slaan sonder om die bruid se kollig te steel:

  • Hou by wat die uitnodiging sê – die kleredrag aanwysings staan jou miskien nie heeltemal aan nie, maar die bruidspaar het hul redes waarom hulle die spesifieke kleredrag gekies het!
  • Moenie splinternuwe skoene dra nie. Al is die versoeking ook hoe groot om nuwe skoene vir die geleentheid te koop, gaan jy spyt wees wanneer jy tussen die venues moet rondbeweeg of die dansvloer betree.
  • Kies vrolike dog sagte kleure en patrone – dit is immers ‘n feestelike geleentheid en jy wil die boodskap oordra dat jy baie gelukkig is vir die paartjie, sonder om die aandag te steel. Jy kan dus nooit verkeerd gaan met pastel- of juweelkleure nie.
  • Vermy rooi aangesien dit mag lyk asof jy die aandag op jou gevestig wil hê of die bruidegom wil verlei.
  • Bly weg van wit en enige skakerings daarvan – dit wil sê ivoor, room en enigiets wat naastenby soos wit lyk. Dit is die bruid se kleur en klaar!
  • Dra gerus lae of ‘n rompie en toppie kombinasie. Op die manier is die kanse skraler dat jy presies dieselfde uitrusting as een van die ander gaste sal aanhê en jy kan boonop uittrek en aantrek soos die weer verander.
  • Vermy enige uitspattige uitrustings, dit wil sê blinkertjies, ‘n baie lae hals, piepklein mini-rompies en so aan. Vra jouself af of dit die aandag van die bruid gaan aflei en of die ouer familielede die uitrusting sal goedkeur.
  • Kies treffende bykomstighede om die matige uitrusting op te kikker. ‘n Helder paar skoene of ‘n bonkige halssnoer kan wondere doen vir ‘n respektabele gaste-uitrusting. Sien? Dis darem nie alles net vaal en afgewater nie!
  • Maak seker jy’s netjies van kop tot tone – dit wil sê, gaan maar vir ‘n pedikuur as jy van plan is om ooptoonskoene te dra en kies ‘n gesofistikeerde haarstyl.
  • Vermy swart. Selfs al is dit ook hoe vleiend, dit mag dalk lyk asof jy ‘n roudiens bywoon.

 Foto Krediet: www.ourwedding.com


Advertensies

Search Our Blog

Browse by Category