Kategorie: Artikels

Grappies vir die Geleentheid { Moets + Moenies }

Daar is min dinge so plesierig soos ‘n onthaal vol lekkerlag-oomblikke, veral wanneer dit by die toesprake kom. ‘n Goeie grappie kan ‘n vaal toespraak in ‘n meesterstuk omskep waaroor gaste nog maande lank lekker giggle om die eetkamertafel. Tog is daar ook niks wat ‘n onthaal kan kelder soos ‘n onvanpaste staaltjie wat die gaste laat kriewel van ongemaklikheid nie. Druk hierdie lysie moets en moenies vir elkeen van jou sprekers uit en verseker so dat die een met die mikrofoon – jou hoof strooijonker, -strooimeisie, seremoniemeester, noem maar op – weet waar om die lyn te trek en al die regte dinge sê:

Die Moenies:

  • Vermy enige storie wat die bruid of bruidegom hoegenaamd in ‘n slegte lig kan stel. Onthou, dis hulle groot dag en jou toespraak moet juis die teenoorgestelde doen.
  • Grappies of stories oor die henne- of hanepartytjie is taboo, tensy dit silwerskoon en werklik opbouend is. Enige gebeure wat by hierdie partytjies gebeur, bly gewoonlik tussen die gaste.
  • Geen grappies waar ‘n vorige kêrel of meisie van die bruidspaar betrokke is nie – dis gedane sake, en nie gepas vir ‘n viering van nuwe liefde nie.
  • Wanneer jy ‘n grappie vertel wat op ‘n familielid betrekking het, maak eers by die bruidspaar seker dat dit nie dalk ‘n teerpuntjie is of iemand sal ontstel nie.
  • Vermy liefs skoonma-en-dogter grappie – jy wil nie per ongeluk ‘n wondjie oopkrap nie.
  • Moenie enige van die bruidspaar se dronkenskap-verhale uitlap nie.
  • Geen vulgêre grappies nie – as jy dit nie voor ‘n kind kan vertel nie, is dit nie gepas vir hierdie prag geleentheid nie.
  • Probeer wegbly van te veel grappies wat speel op die negatiewe sy van die huwelik, soos byvoorbeeld dat ‘n vrou soos ‘n bal-en-ketting aan ‘n man se voet is.
  • As jy jou die bruid of bruidegom se swakpunt in ‘n storie wil gebruik, bv. haar lelike handskrif, maak seker dat jy dit in ‘n teer manier hanteer sodat dit nie ten koste van die bruid is nie.
  • Moenie ‘n storie deel wat in vertroulikheid aan jou vertel is nie.
  • Bly weg van grappies wat op kultuur of geloof speel – met so ‘n verskeidenheid mense bymekaar in een saal, is die kans goed dat jy iemand kan beledig.
  • Hou die grappies bo die belt, gesofistikeerd en in goeie smaak.
  • Moenie vloekwoorde of enige kru taal gebruik nie – jy bedoel dit dalk in ‘n goeie gees maar dit mag dalk die ouer geslag se nekhare laat rys.
  • Vermy stories wat nie regtig bydra tot die hoof gedagte van die toespraak nie: Hoe ongelooflik en spesiaal die bruidspaar is.
  • Bly weg van enige toiletgrappies.

Staatmaker Staaltjies

Jy hoef nie noodwendig ‘n grappie te vertel om jou gehoor te laat skater nie. ‘n Oulike storietjie oor die paartjie is altyd ‘n wenner en gewaarborg om jou twee vriende in ‘n goeie lig te stel. Hier is ‘n paar kosbare oomblikke wat jy maar met vrymoedigheid kan deel:

  • Hoe die bruid en bruidegom ontmoet het. As jy by was om hierdie groot oomblik te beleef is jy die ideale persoon wat die storie in meer diepte kan oordra.
  • Vertel ‘n storie oor een van die bruid if bruidegom se oulike en menslike gebreke. Maak egter net seker dat dit iets is waaroor die bruidspaar sal saamlag, en dat dit nie ten koste van die persoon ter sprake is nie. Byvoorbeeld:
    • “By Stefan se 23ste verjaardag loop ek toe vir ou Casper en Johan by die kroeg raak, albei skoon bloedneus. Ek vra toe of hulle baklei het, toe Cassie antwoord: ‘Nee, ons het langs Stefan gedans.'”
    • “Janine se bestuursvermoe laat my altyd aan die grappie van Tant San en Oom Piet dink. Terwyl Tant San eendag huistoe ry, bel Oom Piet haar op haar “mobiele telefoon” om te sê hy’t sopas gehoor daar’s iemand wat aan die verkeerde kant van die pad ry. Waarop Tant San toe ewe verontwaardig antwoord:’Wat!? Daar’s honderde van hulle!'”
  • Enige storie wat bewys dat die paartjie vir mekaar bedoel is, byvoorbeeld:
    • “Hulle het so baie na mekaar verlang die dag voor die troue, dat hulle uitgeglip het en mekaar in die geheim vir roomys ontmoet het,”
    • “Sy is die enigste een wat sy robot-danspassies waardeer, en geen ander man kan so lief wees vir haar karaoke weergawe van ‘Killing me Softly’ soos hy nie.”
  • Die storie van hoe op sy senuwees die bruidegom was toe hy moes ouers vra.
  • Vertel hoe jy en die bruid of bruidegom ontmoet het.
  • Enige snaakse storie van jou en die bruid/bruidegom se avonture saam, wat sy/haar ware karakter wys  en verhef in die oë van die gaste.
  • Vertel die storie wat jou vriend/vriendin kom vertel het na hulle eerste afspraak – hoe oulik sy is, dat sy weet hy’s “die een” – daardie tipe ding.

‘n Voorbeeld of vier

  • “Ek is gesê dat die manier om ‘n goeie toespraak te maak, is om op te staan, gesien te word, te praat, gehoor te word, te sit en jou mond te hou.” [Gaan sit]
  • “As studente was ek en Stefan maar regte armgatte. Ons het ‘n teesakkie ‘n week gebruik, tamatiesous toebroodjies geëet en seep uit die garage se badkamer gesteel. En toe ontmoet hy vir Janine, ‘n meisie wat nooit haar neus sal optrek vir viennas en wyn voor die TV op ‘n Vrydagaand nie.”
  • [Vir ‘n spreker met ‘n lekker bles] “Ek is al heel week paniekbevange oor hierdie toespraak. So bekommerd, ek het al my hare begin uittrek.”
  • “Lank, aantreklik, sensitief, snaaks, braaf en sportief. Ek is al hierdie dinge, so hoekom op dees aarde het Janine besluit om vir Stefan te vat?”
  • “Ek het al gehoor dat die enigste aanvaarbare rede om die taak van Hoof Strooijonker van die hand te wys, is dat jy nie die bruidegom goed genoeg ken nie. Wel dit is beslis nie die geval met my en Eben… ek bedoel Ewan… skies, ek meen Stefan nie.”
  • [Van ‘n baie musikale bruid] “Op 11 het Janine besluit om viool te begin speel. En die oomblik toe ons haar die eerste keer hoor speel, het ons gebid sy hou teen 11:30 op. Maar sy’t nooit opgegee nie.”

Onthou, grappies is soos sout: ‘n Bietjie gee ‘n goeie smaak, maar net ‘n titseltjie te veel kan die hele geleentheid bederf. Hou dus die grappies tot minimum, en praat eerder oor dit wat werklik belangrik is: Die nuwe paartjie wie se liefde julle hier is om te vier.

Foto’s deur MLG Fotografie



Soortgelyke artikels:

10 Aanmerkings op Grappies vir die Geleentheid { Moets + Moenies }

  1. Carike says:

    Oooh, hierdie is my grootste vrees! Ek dink ek moet hierdie vir al die gaste aanstuur tesame met hul trou uitnodigings. Hehe :)

  2. Tanja Marais says:

    Goeie dag, hoop U kan my van hulp wees. Ek is gevra om as Seremoniemeester op te tree by my Suster se Seun se troue. Wat is die vroulike weergawe van ‘n Seremonimeester?

    • Trou Inspirasie says:

      Hi Tanja. Baie geluk – dis ‘n groot eer! Deesdae is dit glad nie vreemd vir vroue om as seremoniemeester op te tree nie. Die Engelse praat van ‘n “toastmistress”, maar dit kan sommer ‘seremoniemeester’ bly in Afrikaans, of dan nou ‘seremoniemeesteres”.

  3. Reline says:

    Baie danki hiervoor. Definitief ‘n MOET lees!

  4. Lee says:

    Hi Daar,

    Ek is strooijonker en kort n paar idees vir my toespraak, kan jylle my help asb?

    baie dankie
    Lee

  5. Ryno Robbertse says:

    Goeie dag, ek hoop julle kan my help, ek is die bruid se broer en ook een van die strooijonkers. Ek is gevra om ‘n toespraak op my ouers (bruid se ouers) te maak, ek het goeie idees hier gekry hoe om die toespraak te skryf, die probleem is net dat my ouers ‘n paar jaar terug geskei het en ek weet nie regtig wat om als te sê nie, ek wil nie valse staaltjies vertel oor liefde en gelukkige kinderdae nie. Ek hoop julle kan my bietjie uithelp! Baie dankie!

  6. Willie Marais says:

    my dogter trou sy wil he ek moet die Mc wees ,ek het al 12 troues agter die rug maar soek nou idees om die een baie spesiaal te maak,
    Baie dankie

  7. Frik Le Roux says:

    Trou Inspirasie:
    Ek het die eer te beurt geval om as die oudste oom van die bruid, op te tree as Seremoniemeester. Omdat ons sedelike waardes hoog is, moet ons tog mooi skoon grappies vertel. Die voorbeeld is puik, maar nog ‘n paar sal baie welkom wees. Ek was ook die SM by die bruid se ouers.
    Baie dankie byvoorbaat,
    Frik

  8. Lampies Lamprecht says:

    Is gevra om op te tree as MC by ‘n ou kollega met wie ek saam gewerk het.Is tans ‘n Aanbieder by ndie werk ,maar wat moet ek se, hoe begin ek, want daar is gesiende mense as gaste en ek wil my naam met ‘n plank slaan nie . Help asseblief ???
    baie dankie
    Lampies

  9. corrie says:

    Helo Ek het regtig snaakse grappe nodig moet skoon wees maar ietsie so tussen die lunne kan ook werk. ook meer gemik op Afrikaans , hoop julle sal my kan help met dit.

    my man het dit nodig en dit is sy eerte keer as sm so hy is baie dankbaar oor die inligtig van n goeie sm se pligte

    groete Corrie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>